Die sangeres Candy warrel die nuwe jaar binne met haar jongste pop-opskop-enkelsnit, Hier en nou, wat beloof om Suid-Afrikaners se voete op die dansbaan te laat skoffel.
Dié enkelsnit is weer ’n bewys van haar reusetalent waar sy nie binne die tradisionele grense van dié pop-genre beweeg nie, maar vernuwing bring in die styl, ritme en aanslag van dié genre.
Haar suiwer stem – gelukkig het Covid-19 nie die kwaliteit daarvan vergruis nie – kan met gemak tussen die laer en hoër C-note trippel. En dié kwaliteit maak van die snit pure luisterplesier…
Candy het in haar vorige enkelsnitte, 7 Dae in die Somer en Hy sal jou dra haar stryd teen die Covid-19 virus, die pyn van verlore liefde en die dood van ’n geliefde goed verwoord. Hoewel sy nie ’n gospelsangeres is nie, word temas van God se liefde en genade sterk in al haar liedjies verteenwoordig.
Toe tref sy die mark met ’n liefdespopliedjie, Net oor jou, wat die storie van haar eie liefdespad tydens die pandemie vertel.
Dit is asof sy nou met Hier en nou in ’n meer positiewe rigting beweeg – die liedjie is op-en-wakker en fokus nie op die pyn van die verlede nie, maar op ’n nuwe begin.
Candy vertel dat Hier en nou oor die liefde en passie tussen twee mense gaan. “Liefdesgebare is baie belangrik in ’n verhouding en die snit fokus op hoe die persoon jou laat voel wanneer hulle na jou kyk, jou aanraak; die warmte van hul liefde met jou deel.”
Hier en nou se tema breek ook die mure van ’n verloopte liefdesverhouding af; daar is weer liefde na die seerky en ’n mens kan stelselmatig weer jou hart vir die liefde oopmaak.
Jy kan dus ’n persoon nog ’n kans gee om die vreugdes en pyn van menswees met jou te deel.
Die snit was ’n skryfspanpoging deur die liriekskrywers en sangers Eugene Vos, Riaan Benade en Shimonay Claasen.
Die eindproduk is pasknap vir Candy se stem.
Dié boodskap wat Candy aan die luisteraars wil oordra is dat almal soms seerkry, maar dat daar altyd ’n tweede kans op geluk is.
Hier en nou is wel ’n lekker dansliedjie, maar dit dra ook ’n postiewe boodskap aan luisteraars oor. Dit is ook wat Candy met haar musiek wil bereik.
Candy is dié jaar al bykans drie dekades in die musiekbedryf doenig en sy het een van die bekendste sangeres in ons land geword. Sy was net drie jaar oud toe sy vir die eerste keer haar mondjie oopgemaak en begin sing het. ’n Youtube-video waarop sy, as kleuter, I will always love you, sing het al verskeie unieke trefslae gekry.
Candy het nie die afgelope paar maande, sedert haar laaste enkelsnit uitgereik is, stil gesit nie. Sy sing weer die verhoë regoor die land aan die brand, en sy is ook besig om ’n boek oor haar reis met Covid-19 te skryf.
Hier en nou is ’n prettige dansliedjie wat jou voete gaan laat jeuk, maar jou ook dieper laat dink oor wat ’n verhouding werklik beteken.