ZIMRI RAAK HARTE MET NUUTSTE ENKELSNIT – ALLES VIR MY

Alles vir my is die talentvolle jong sangeres, Zimri, se nuutste enkelsnit en gaan oor daardie besonderse liefde en waardering wat jy vir jou naastes het.

Hierdie moderne Afrikaanse-popliedjie gaan maklik aanklank vind by aanhangers wat waardering het vir ʼn opgewekte wysie en musiek met betekenis.

Die snit is geskryf deur Arri Opperman, wat die emosie en boodskap op ’n besonderse manier vasgevang het.

Zimri het saam met Christiaan Bezuidenhout van Big Tree Studio aan die produksie gewerk om die klank en gevoel van die lied perfek oor te dra.

“Alles vir my simboliseer die diep liefde en waardering wat ’n mens vir iemand anders kan hê,” verduidelik die sangeres. “Dit gaan nie net oor romantiese liefde nie, maar ook oor familie, vriende of enige ander persoon wat ’n groot rol in jou lewe speel.”

Volgens haar, hoop sy dat luisteraars hul eie storie in die lirieke sal kan hoor: “As iemand na die lied luister en aan ’n spesiale persoon in hulle lewens dink, dan het dit sy doel bereik”.

Die inspirasie vir die lirieke het uit haar eie lewe gekom. Haar familie en vriende is die mense wat haar deur elke nuwe hoofstuk van haar lewe dra en ondersteun. Hierdie enkelsnit herinner haar daaraan dat ongeag waar die lewe jou heen mag vat, daardie spesiale mense altyd in jou hart sal bly.

Alles vir my is Zimri se derde enkelsnit. Haar eerste groot vrystellings was haar enkelsnit, Tree vir tree, en haar album Beperk, wat kort daarna gevolg het. In 2023 het hierdie snit ook die eerste plek op Radio Laeveld (100.5 FM) se Stoompot-treffersparade behaal, wat ’n hoogtepunt en ’n groot motivering vir haar was om nuwe musiek te skep.

Die enkelsnit, Stormblom, wat ook ’n musiekvideo gehad het, is toe daarna aan die publiek bekendgestel.

Met die vrystelling van Alles vir my pak Zimri vir die eerste keer ’n meer gestruktureerde bemarkingsveldtog aan en hoop sy dat dit ook nuwe luisteraars sal aanmoedig om haar vorige musiek te ontdek en geniet.

Die musiekvideo vir die lied vertel ’n eenvoudige, maar simboliese storie. In die video skryf sy ’n brief aan die persoon, of persone, wat alles vir haar beteken. Sy neem die brief saam met haar terwyl sy deur verskillende plekke stap, maar verloor dit per ongeluk sonder om dit agter te kom. Aan die einde van die video hardloop iemand agter haar aan met die brief wat hulle opgetel het en gee dit weer vir haar terug.

Hierdie simboliese oomblik verteenwoordig die idee dat die mense wat vir jou belangrik is altyd weer hul pad na jou sal vind of vir altyd in jou hart sal bly, maak nie saak waarheen die lewe jou vat nie.

Die konsep van die video is ontwikkel saam met Willie Venter, wat as kreatiewe regisseur opgetree het. Dit is verfilm deur Deon van Wyk van DW Photography, met Elize Gouws as die agent. Chez Charlene Wedding & Conference Venue in Pretoria-Oos het as agtergrond gedien vir hierdie boeiende verhaal.

Zimri Leuvennink is 21 jaar oud en kom oorspronklik van Nelspruit in die Laeveld af. Sy het op ’n familieplaas net buite Malelane grootgeword. Haar liefde vir musiek is reeds op ’n jong ouderdom gekweek, omdat dit iets is wat nog altyd deel was van haar gesinslewe.

Haar pa, wat uit ’n musikale familie kom, het haar van kleintyd af die basiese beginsels van sang geleer. Sy het ook gereeld aan sang-Eisteddfods deelgeneem, waar haar passie vir musiek verder ontwikkel het.

Gedurende haar skooljare by Hoërskool Nelspruit was sy deel van die skool se revueproduksies, wat haar blootstelling aan verhoogoptredes uitgebrei het.

In 2020, tydens die covid-19-pandemie toe sy in Graad 10 was, het sy in kontak gekom met Deon van der Merwe van Touch of Class, wat haar aan die professionele musiekbedryf bekendgestel het. Die musiekgogga het haar behoorlik gebyt en sy het toe saam met Deon en Arrie Opperman begin werk aan haar eerste album.

Die album, Beperk, wat uit twaalf snitte bestaan – nege van haar eie weergawes van bestaande treffers en drie oorspronklike liedjies – is op 18 Februarie 2023 op alle gewilde digitale musiekplatforms vrygestel.

Sedertdien was Zimri by verskeie musiekprojekte en optredes betrokke, insluitend privaat- en publieke funksies, groot verhoogoptredes by feeste en musiekgeleenthede, asook verskeie skoolrevues.

Van die hoogtepunte in haar loopbaan tot dusver sluit in toe sy vir Mango Groove tydens die Penryn-fees in 2022 geopen het, asook ’n voorprogram-optrede vir Riaan Benadé in 2025. Sy het ook in 2023 by die Wegbreekfees saam met bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars opgetree en in 2025 by die Innibos Kunstefees verskyn.

Nog ’n hoogtepunt was toe Radio Laeveld haar in 2023 as een van die gewildste plaaslike sangers in die Laeveld aangewys het.

Buiten die musiekbedryf fokus Zimri ernstig op haar akademiese loopbaan. Sy studeer tans Biokinetika aan die Noordwes-Universiteit en is in die finale jaar van haar honneursgraad.

Volgens haar het die vermaaklikheidsbedryf haar reeds baie lesse geleer: “Ek het geleer hoe belangrik spanwerk, dissipline, geduld en egtheid is. Slegs talent is nie genoeg nie – harde werk en deursettingsvermoë maak die grootste verskil.”

Vir Zimri is musiek ’n manier om stories met mense te deel. Sy beskryf haar werk as eerlike, energieke musiek met hart, karakter en ’n voelgoed-gevoel.

Haar planne vir 2026 sluit die vrystelling van nuwe oorspronklike musiek in, om nog aanhangers te kry en om meer nasionale optredes te doen.

Alles vir my is ’n goedvoelsnit wat belowe om diep in aanhangers se harte nes te skrop en hulle voete te laat jeuk om te dans.

Dit is nou beskikbaar op alle stromingsplatforms. Kry dit hier: https://ffm.to/zimri-alles-van-my
Musiekvideo is binnkort beskikbaar: Kry dit hier: https://youtu.be/grjpfATXiWg?si=nmuLvc5bB2vshOIE
Zimri – (Alles Vir My) ISRC: ZB2OE2600009

VOLG HAAR OP SOSIALE MEDIA

Facebook – https://www.facebook.com/profile.php?id=61587764467871

Instagram – https://www.instagram.com/zimri_leuv/?hl=en