Pedri van der Westhuizen se jongste enkelsnit, Dankie Pa, is meer as net ’n dankbaarheid- of lofprysingsnit.

Baie Afrikaanse sangers het al voorheen liedjies oor hulle onvoorwaardelike liefde en dankbaarheid teenoor hulle pa’s uitgereik, maar Pedri van der Westhuizen se jongste enkelsnit, Dankie Pa, is meer as net ’n dankbaarheid- of lofprysingsnit. Dit is ’n ode, amper ’n smeekwens van ’n seun om …“ as dit God se wil is ’n man soos sy pa te wees.“

Pedri, wat nog altyd daarvoor bekend was dat hy musiekgenres uitdaag en ’n musikale waaghals is, stel ook nie teleur met dié enkelsnit nie. Dit het ook uit sy eie pen verskyn.

Waar sy vorige twee enkelsnitte, Nou en Mooi oomblikke, ’n amperse rock-lounge gevoel gehad het, is Dankie Pa weer ’n rock-pop ballade waar musiek en liriek deel word van die diep boodskap wat dit oordra; dat ’n pa gewoonlik van die begin af daar is. Hul kinders op hul lewensreis neem, van geboorte , peuter, kleuter, tiener tot jong volwassene.

Dit is ’n universele lied wat nie net van toepassing is op ’n verhouding tussen pa-en-seun nie, maar ook tussen pa-en-dogter.

Dankie Pa is eerstens ’n snit wat getuig van die liriekskrywer se hegte band met sy pa, tweedens is dit ook ’n ode aan alle pa- en vaderfigure wat kinders geleer het om ’n mooi gees te hê.

“As jy dalk ’n pa is, wil ek ook met die snit vir jou dankie sê vir die impak wat jy op jou kind se lewe het. Mag elke pa daagliks daarna streef om sy pa-skoene vol te staan. Die wêreld is ’n beter plek met pa’s wat hulle plekke volstaan in die samelewing en in hul kinders se lewens,“ glo Pedri.  “Die liedjie, sê Pedri, het ook ontstaan as ’n persoonlike dankie aan my pa.’’

Pedri sê dat Vadersdag ’n sensitiewe onderwerp vir baie mense kan wees, omdat baie nie meer die voorreg het om ’n pa in hulle lewens te hê nie. “Ek glo egter dat daar altyd ’n vaderfiguur in jou lewe is, wat jou baie lief het. Ek het die liedjie geskryf om dankie te sê aan alle pa’s en vaderfigure. En al het jy nie meer ’n pa nie, kan jy vashou aan die mooi oomblikke en herinneringe wat jul wel gedeel het.’’

Die millenniër het die musiekmark behoorlik in Januarie verlede jaar binnegerock met sy eerste enkelsnit, Deel van die lewe. Dié snit is baie goed deur plaaslike radiostasies ontvang en musiekkenners was behoorlik op hol met sy  gemaklike wêreldbeskouing en ook die manier waarop dit in sy lirieke weerspieël word.  

Pedri is in Pretoria gebore en het ook in die Jakarandastad grootgeword. “Ek is baie lief vir die buitelewe en vlug dikwels na ons plasie, net buite die stad, as die liggies, geraas en verkeer té veel raak.”

 Hy het nadat hy, aan die Hoërskool Montana in die noorde van Pretoria, gematrikuleer het (nogal matriek met drie onderskeidings), sy musiekstudies aan onderskeidelik Unisa, Rock school en  SAMRI (South African Music Industry) voltooi.  Hy is veral ’n meester van die elektriese kitaar.

Pedri het in 2022 vir  ’n BA-graad in teologie ingeskryf en sy studies is ook die inspirasie vir baie van sy lirieke. 

Dankie Pa is ’n ideale toevoeging tot enige radiostasie se Vadersdagspeellys en kinders moet die snit op dié spesiale dag vir hulle pa’s speel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *