Die Centurion-sangeres Zahn lui die laaste twee maande van die somer in met ’n splinternuwe sonskynpopsnit, Somerson, wat ’n mens laat dink aan druppende sjokolade roomys, die reuk van sonbrandolie en sweet-warm dae op een van ons land se strande.
Zahn het die afgelope dekade bekend geword vir haar lewendige, poplekkerkonserte en haar diep donker Lindt-sjokoladestem waarmee sy enige liedjie – óf dit nou ’n bekende snit of een van haar eie liedjies is – met musikale gemak kan sing.
Zahn het in 2019 gedebuteer met haar eerste album Masker wat goed deur die plaaslike musiekmark ontvang is. Sedertdien het sy verskeie enkelsnitte waaronder ’n Hart weer heelmaak, Dis hoe jy die wêreld verander en Vergifnis lei na vrede uitgereik. Die drie snitte – wat as ’n trilogie beskou kon word – was haar sogenaamde rou-musiek. Musiek en woorde wat dié sangeres moes help met haar eie genesingsproses. Sy is, byvoorbeeld as kind geboelie, en het eers deur haar liedjies vergifnis en vrede gevind.
Zahn het dit reggekry om die afgelope paar jaar verskeie musikale gedaanteverwisselings te ondergaan, en daarom het sy dit ook reggekry om altyd relevant in die Afrikaanse musiekmark te bly.
Sy het ook deur ‘n pynlike groeiproses gemorfeer tot ‘n sangeres wat luisteraars met haar musikale weerloosheid ontroer. Dit is ook waarom haar kontemporêre popliedjies so goed met haar geresoneer het.
Sy spot dat sy nou vir eers klaar is met haar sogenaamde roumusiek of “donkerder ballades” en dat sy lus was om iets so warm soos ’n heerlike sonskyndag uit te reik.
Sy het haar ritmiese pen by die van die sangers Ruan Tennant en Roux Cloete gevoeg en die resultaat was Somerson – ’n ligter liedjie wat ’n metafoor is vir ’n gelukkige warm plek.
“Die liedjie se boodskap is geluk,“ vertel Zahn. “As mense na die liedjie luister moet hulle voete onmiddellik begin beweeg. Hulle gedagtes moet na ’n braaivleisvuur, ’n blou swembad of ’n vakansie by die see beweeg.“
Op ’n meer figuurlike vlak kan die liedjie ook beskou word as Zahn se “sonnige terugkeer,“ waar sy die mantel van die hartseer en pyn (die winter) van haar skouers afgegooi het en nou net na die son toe hardloop. “Ons vergeet soms dat na ’n koue winter, die warm son altyd weer sal skyn.“
Dié hitte van dié son, wat ook raakbeskryf word, in die koorgedeelte van die snit: … “Somerson wat nader kom, kry alles reg, is jy gereed vir die somerson wat nader kom?
“Die tyd is reg vir ’n nuwe seisoen, ook in my eie lewe,“ verklap Zahn. “Die somer is ook die ideale seisoen vir nuwe ritmes, nuwe liedjies. Alles is sommer so nuut en vars in die somer.“
Zahn se musiek het nog altyd die manier waarop sy haar lewe lei – soms ’n donderwolk en ander keer die blitsende son – vergestalt. Somerson wyk dus ook nie af van haar wipplankresep nie. Dit is ’n lekker dansliedjie wat luisteraars beslis aan die beweeg gaan kry. “Ek hoop regtig mense vind aanklank by die liedjie. Ek is baie trots op die eindproduk; dit is iets heeltemal anders.“
Zahn is ‘n stem wat al lank in die musiekbedryf weerklink en sy sal ook nie gou stil raak nie. Met Somerson gaan sy beslis ’n nuwe paar musiekharte verower.