Die heelal kan soms heel wispulturig wees.
Dit is die besef waartoe die Kaapse sanger Murphy gekom het nadat hy met karpale tonnelsindroom gediagnoseer is, en vir ’n hele paar jaar nie sy kitaar se snare kon pluk nie.
Karpale tonnelsindroom is sekerlik enige musikant se nagmerrie, want die belangrikste simptome is pyn en gevoelloosheid in die duim, wysvinger, middelvinger en halwe ringvinger.
Díé sindroom (en die nare ou Murphy – sy naamgenoot – se wet wat bepaal dat as iets moet verkeerd gaan, dit sal verkeerd gaan) het egter nie in sy musiekpad gestaan nie en hy maak die maand sy debuutbuiging in die Afrikaanse musiekbedryf met sy rock-enkelsnit Dans soos ’n kind.
Die boodskap van die liedjie, waar liriek en musiek soos een van die Kaapse Weskus se woeste winde bymekaar kom, is om net jouself te wees; om jouself te bevry van verkeerde keuses en denkwyses. Om in jouself te glo en jou drome te volg.
En dit is presies wat Murphy – sedert hy drie jaar oud was – gedoen het. Gedans as die lewe druk, gesing as hy gelukkig was.
“Musiek het my nog altyd tydens moeilike tye troos gebring. Ek kon nog skaars lees toe was ek al lid van die skoolkoor. Musiek was altyd deel van my lewe, maar soms het die heelal ook sy eie planne met jou, en ek het eers vyf jaar nadat ek gematrikuleer het leer kitaar speel,” mymer hy.
“My paaie het in daardie stadium met die van die musikante Wouter van de Venter en Clint en Brad Cunningham geskruis. Wouter het my leer kitaar speel en die Cunningham-broers het my die geleentheid gegee om op die verhoog op te tree. Die akkoorde het omtrent in my rigtng geskree,” lag hy, “maar dit was ’n wonderlike leerskool.”
Murphy het die afgelope dekade ’n bekende naam in die Kaapse musiekkringe geword. Hy het voorvertonings vir bekende name by kunstefeeste gedoen, dansers in nagklubs met sy elektroniese musiekmenger vermaak en ook die elektrise kitaar bemeester.
Hoewel hy reeds twaalf liedjies (wat hy self neergepen het) op digitale netwerke uitgereik het, glo hy die tyd is nou reg om sy musiek met die res van Suid-Afrika te deel.
Murphy is ’n uitstekende liedjieskrywer en sy diep tenoorstem pas sy lirieke so goed soos wat ’n stratum by ’n kitaar pas. “Die lirieke begin by ’n gedig. Die wysie volg op ’n natuurlike wyse,” vertel hy.
Die idee rondom Dans soos ’n kind is tydens ’n kersvakansie op Langebaan se strand gebore. “Dit was kersfees en ons het vir hom sy geskenk op die strand gegee. Die wind het ons omtrent van die strand afgewaai, maar my seuntjie se blydskap oor sy geskenk was net so woes en wild soos die wind. Hy het gedans.”
“Ek het onthou dat ons soos ’n kind moet glo. Anders as volwassenes, gee kinders nooit voor om iemand te wees wie hul nie is nie.”
Die woorde, sê hy, het net gekom…
… “dans soos ’n kind, wees vry soos die Weskuswind…”
Murphy het die liedjie by die huis getoonset. Hy het dit in tydens die opname proses in die ateljee, ’n bietjie verander, maar die eindproduk is ’n droom. ’n Boodskap aan luisteraars om weer soos ’n kind te begin glo.
Murphy gaan met dié liedjie ’n paar nuwe aanhangers werf. Hulle sal aan sy lippe en woorde hang soos bye aan ’n stroopsoet blom. Dans soos ’n kind is deur Darryl de Lange (’n voormalige lid van Mean Mr. Mustard) van Musicology Studios opgeneem en vervaardig.