Carlien het ’n melodieuse stem wat enige snit haar eie kan maak.

’n Onderwyseres van Centurion het met haar debuutenkelsnit, Sal jy vir my wag, ’n kans gewag wat haar soos ’n alomteenwoordige Faf de Klerk op die rugbyveld aan die hakke kan hap óf waarmee sy met die spreekwoordelike lourierkrans kan wegstap.

Carlien Coetzee het die ongekroonde rock ’n rol-prinses van Afrikaans, Tasché Burger, se treffer Sal jy vir my wag herverpak- en gemeng, haar eie gemaak. Met die snit maak sy ook haar grande entreé tot die Afrikaanse musiekbedryf.

Maar Carlien,  wat ook op die sportveld presteer, is ’n vrou wat daarvan hou om kanse te waag; hetsy dit is om Tai Sabaki in karate uit te voer, of die Suid-Afrikaanse sagtebalspan oorsee te verteenwoordig. “Ek het ’n kans gewaag, maar soms praat ’n liedjie net met ’n mens. Dit is asof ek elke liewe woord van die liedjie tot in my siel gevoel het,’’ sê sy.

Sy is ook ’n groot aanhanger van die liriekskrywer Hiram Koopman wat Sal jy vir my wag spesiaal vir Tasché geskryf.  “Ek het nog altyd aanklank by Hiram se musiek gevind,  en Tasché is een van my gunsteling sangeresse. ’’

“Toe dié twee besluit om iets saam te skep, het dit dadelik met my gepraat. Die liedjie beteken vir my baie, omdat dit ’n eerlike uitbeelding van ’n verhouding is. Ek het al self  ook die liefde so ervaar,” vertel sy.

Die snit is uitstekend verwerk en dit is ook pasknap vir Carlien se suiwer sopraan. Dit is ook waarom musiekresensente vir Carlien volpunte vir haar poging kan gee.  Waar Tasché se weergawe ’n harder rock-gedrewe aanslag het, het Carlien die snit verwerk om dit ’n meer klassieke volwasse kontemporêre gevoel te gee.

Sal jy vir my wag handel oor die liefde, maar dit is nie die soetsappige weergawe wat dikwels in romantiese komediese versinnebeeld word nie; dit skep eerder ’n realistiese prentjie waar liefde nie uitgebeeld word in ’n rooskleurige Hallmark-kaartjie nie, maar eerder die idee skep dat daar ook moeiliker tye kan wees.

Die openingsreël van die liedjie beskryf die onthou van oomblikke wat jy nie weer sal terugkry nie… “As ek kyk na jou glimlag, ek luister na jou lag…”

Dit is veral dié gedeelte waarby Carlien aanklank vind. “Dit is die dinge wat jy sal onthou en na sal verlang as die persoon nie meer by jou is nie,” verduidelik sy.

Die tweede versreël vorm ’n sterk kontras met die eerste gedeelte. “Die vlamme in jou hart het saggies verdwyn. Die liefde in jou hart is ’n groot geheim…”

Dit weerspieël weer vir Carlien die mens se vrees om óf uit die verhouding weg te stap óf om te wag en te hoop dit alles sal uitwerk.

Carlien het aan die Hoërskool Centurion gematrikuleer,  en het daarna vir ’n graad in menslike beweegkunde en sportbestuur aan die Universiteit van Pretoria (Tuks) ingeskryf.  Sy het later haar graad in onderwys aan Unisa voltooi.

Sy beskryf haarself as iemand wie se lewe uit ’n simfonie van baie passies en klanke bestaan. Dit sluit die klaskamer, die verhoog en die sportveld in.

My liefde vir sport, vir onderrig en musiek het my lewe gevorm,” vertel sy. “Sedert ek kan onthou was musiek my klankbord.”

Musiek en dans – sy kan ook haar lyf soos ’n wafferse Cardi B op die verhoog rondgooi – was nog altyd haar getroue metgeselle; sy was tussen 2010 en 2012 ’n professionele hip-hop danser, maar het tussendeur ook tyd ingeruim vir sportsoorte soos sagtebal, tennis, hokkie en karate.

Sy verklap dat diep, emosionele musiek nog altyd tot haar siel gespreek het. “My reis met musiek en sang was nog altyd baie persoonlik. Dit is ’n vorm van selfuitdrukking wat my toelaat om ’n baie persoonlike band met mense te vorm.”

Carlien het ’n melodieuse stem wat enige snit haar eie kan maak.

Sal jy vir my wag is ’n snit wat jou dink laat dink. Dit is ’n opregte snit wat sonder enige pretensies aan die luisteraar oorgedra word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *