
Verbeel jouself wakker skrik van ‘n gedreun in die verte wat al hoe nader kom, en dan ewe skielik die
fondasies onder jou ruk en skud. Dis presies die ervaring wat Egmond kort voor Kersfees in 2016 aan die
Noordkus van Suid-Afrika ervaar het. Die aardbewing mag dalk ‘n kraak of twee in die vloer gemaak het,
maar dié ondervinding het die pop-rocker gelos met ‘n titel vir ‘n nuwe liedjie wat net soos die
aardskudding van nêrens af opgedaag het en ‘n groot indruk agter gelaat het.
En nou, byna ‘n dekade later, verras Aardbewing met Egmond se onmiskenbare klank, slim lirieke en
versteekte boodskappe. Die liedjie het vir jare stof opgegaar in ‘n laai wat gesmeek het om oopgemaak
te word. En as die onlangse treffers Spookasem en Everything We Say dien as verwysing na wat in
daardie laai weggesteek kan wees, is Aardbewing die kersie op die spreekwoordelike koek.
Egmond vertel dat dit partykeer goed is om nuwe musiek te bêre en dit later met ‘n varsheid te besoek
waar jy nie vaskyk in iets wat nog rou in jou siel gesit het nie. DIt laat hom die eenvoudighoud van die
liedjie waardeer as ‘n “eerste luisteraar”, die potensiaal raak te sien, en dan die diamant te ontgin. En met
die regte titel het die kontinente met mag en mening die fondamente geruk en gepluk om iets unieks na
die oppervlakte te bring.
Die lirieke het deur die jare verskeie vorms aangeneem, maar na die Sandy Robbie produksie sy plek op
Egmond se iPhone gekry het, het die finale weergawe van die storie homself na vore gebring. Geskryf uit
‘n plek van ekstase en devastasie, word die gevoel van verbode liefde soos voorblad opskrifte
aangespreek. Die greep “hoekom is dit sleg, dit voel dan so reg” is net een van die voorbeelde waar mense opgee op die liefde omdat ander opinies daaroor het. Dit is sulke onopgevoede menings wat skade kan veroorsaak en soos ‘n tsunami alles wegspoel.
Die wit en swart musiek video lewer nie net ‘n kontrasterende allegorie waar die een persoon sy lewe
spandeer in die ysterkloue van meganika, en die ander vryheid vind in die buitelug nie, maar daar is ook
‘n dieper en meer persoonlike storie wat die “yin” en “yang” van die lirieke weerspieël.
Aardbewing is nou beskikbaar op alle digitale platforms en word deur Next Music uitgereik.
Egmond word verteenwoordig deur Lydia Winchester.
Vir meer inligting besoek www.egmond.co.za.


