CAITIE ROCK VIER SOMERDROME MET HAAR NUWE ENKELSNIT“DESEMBER DAGDROOM”


Die talentvolle 15-jarige sangeres Caitie Rock stel met groot opgewondenheid haar
nuutste enkelsnit, “Desember Dagdroom”, bekend — ’n vars, energieke en
sonnige poplied wat die opgewondenheid en ontsnapping van die
Desembervakansie perfek vasvang.

Die lied is geskryf deur twee van Suid-Afrika se mees geliefde liedjieskrywers, Juan Boucher en Francois Kleynhans. “Desember Dagdroom” vertel die storie van ’n jong dagdromer wat uit die klaskamer
se venster staar en droom oor warm sand, sonskyn, avontuur en ’n bietjie vryheid —
presies wat die titel beloof.


Die musiekvideo, wat plaaslik geskiet is deur filmmaker Leon Barnard, neem kykers
saam op ’n warm, speelse reis deur Caitie se droomwêreld. ’n Groot deel van die
video is verfilm by H/S Dr Malan, in die wiskundeklas waar die “Desember
dagdroom” sy oorsprong vind. Mnr Ruan, die wiskunde-onderwyser, vertolk sy rol
met groot entoesiasme, terwyl verskeie van Caitie se regte klasmaats ook in die
video te sien is.


Verder is kleurvolle tonele opgeneem by die Meyerton Publieke Swembad, langs
die rivier, en selfs saam met die gemeenskap se bekende tuk-tuk, wat ’n vrolike
verskyning maak.


Ten spyte daarvan dat die weer nie altyd wou saamwerk nie, het die span die
perfekte oomblikke vasgevang — insluitend tonele waar Caitie op die swembad dryf
terwyl die res onder sambrele moes skuil. Die laaste tonele op die rivier moes vinnig
geskiet word nadat die sluise oopgemaak is en die waterpeil dramaties begin styg
het.


“Dit was ’n dag wat ons nooit sal vergeet nie,” vertel die span. “Al die uitdagings het
net gemaak dat die video nóg meer eg en besonders voel.”
Caitie het van kleins af grootgeword met Juan Boucher se musiek — dit was die
klanke van kuiers en karritte. Sy ken sy liedjies woord vir woord, en dit was vir jare
haar droom dat hy eendag ’n lied vir haar sou skryf.


Twee jaar gelede by een van Juan se vertonings het sy uiteindelik die groot vraag
gevra: “Sal jy eendag ’n song vir my skryf?” En nou, twee jaar later, het die
droom waar geword.


Juan het na haar vorige musiek geluister, vrae gevra, en saam met Francois
Kleynhans het hulle “Desember Dagdroom” geskep — ’n lied wat perfek pas by
Caitie se lewenslus, energie en jong optimisme.


Caitie Rock is ’n dinamiese, multi-talentvolle 15-jarige kunstenaar van die
Vaaldriehoek. Sy blink uit in sang, drama, fotografiese modelwerk en sport, en is ’n
kranige hekkiesatleet én toegewyde hokkiespeler.


Sy is een van die sangeresse in die 4 Eva Young Band, wat oor die afgelope vyf
jaar by groot feeste soos Innibos en Aardklop opgetree het. Haar liefde vir musiek
het op negejarige ouderdom ontvlam toe sy haar eerste mikrofoon in ’n
sangkompetisie gewen het.


Caitie het reeds verskeie projekte agter haar naam, insluitend haar selfgeskrewe
debuutenkelsnit “Carnival”, haar rol as Annie in ’n teaterproduksie in Pretoria, en
die temalied “Noordvaal Hokkie”. Haar lied “Soos ’n Rots” word steeds wyd op
radio gespeel.


“Desember Dagdroom” is haar nuutste vrystelling — ’n sprankelende popsnit wat
wys dat Caitie se toekoms in die musiekbedryf blink en grensloos is.
“Desember Dagdroom voel soos my lewe in ’n liedjie — ek droom groot, ek
leef voluit, en ek hou daarvan om mense te laat glimlag. Juan en Francois het
presies vasgevang hoe dit voel om jonk te wees en vir die vakansie te wag.”
— Caitie Rock