
Weggebreek, die eerste oorspronklike enkelsnit van die talentvolle sanger en musikant Monique West, vertel die storie van iemand wat uit die kloue van ’n narsis ontsnap en sterker aan die ander kant uitgekom het.
Dié pop-snit, vervaardig deur Eugene Nel ( Hugh Lynn ), het uit haar eie pen gevloei en sy het geweet dat hierdie liedjie die eerste enkelsnit moes wees waarop sy haar eie stempel afdruk.
“Ek was in ’n slegte, donker, toksiese verhouding,” sê Monique oor die inspirasie agter Weggebreek se lirieke.
“Om te sê ek het net uit daai verhouding ‘gestap’ is baie ligtelik gestel. Dit was nie so eenvoudig soos dit nie.”
Hierdie kunstenaar, met die sielvolle stem, hoop dat aanhangers die wysie sal geniet en dat die lirieke diep sal tref. Sy glo dat meer mense al onder die hande van narsiste deurgeloop het as wat selfs hulle besef en dat die snit sy doel sal dien om bewusmaking te skep.
Oor die harde werk agter Weggebreek verklap sy die volgende: “Ek beskou hierdie as my eerste regte musiekprojek, aangesien dit die eerste liedjie is wat ek self geskryf en vrygestel het.”
Die ses-en-twintigjarige rooikop het grootgeword in Randfontein, maar bly tans in Krugersdorp saam haar verloofde, vir wie sy baie lief is.
Moniquesing al vandat sy vyftien jaar oud is en was ook in die skoolkoor. Omdat haar loopbaan so vroeg in die Country-genre begin het, moes sy haar van verander het van Grobler naWest, sodat dit sagter van die Engelse tonge kon afrol.
Syhet altyd gedink dat sy in die onderwys sou beland en dat musiek net ’n onrealistiese droom sou bly. Weens gesondheidsredes het haar paadjie wél in die musiekbedryf gaan spore loop en sing sy die laaste drie jaar al professioneel.
Van hoogtepunte kan die sy reeds baie getuig. Sy het geopen vir een van haar musiekhelde, Karen Zoid, saam met wie sy ook drie liedjies gesing het. Zoid is ook iemand na wie sy opkyk omdat sy getrou is aan haarself en besef hoe belangrik dit is om haar musiek self ook te geniet en dit nie net vir aanhangers te doen nie. Sy sal ook bitter graag nog saam met haar wou werk in toekoms.
Verder, het sy ook al virFrancois van Coke en die musieklegende, Anton Goosen, geopen. Om vir Leon Schuster te ontmoet en beter te leer ken en al die nuwe plekke wat sy kon besoek as gevolg van haar loopbaan is ook ervaringe waarvoor sy baie dankbaar is.
“Om uiteindelik te kan sê dat ek my eie liedjie vrygestel het maak my vreeslik opgewonde,” deel sy oor die hoogtepunt wat die naaste aan haar hart lê.
Op die oomblik put die sanger inspirasie uit baie verskillende kunstenaars se werk omdat haar musieksmaak so wyd is. Wanneer dit kom by haar gunstelingmusiek verkies sy klassieke rock en Country. Sy kyk ook op na internasionale musikante soos Freddie Mercury en Cheromdat hulle veelsydige talente iets is waarna sy streef.
“Ek geniet dit om liedjies te sing wat iets vir my beteken,” sê sy oor wat sy ook haar musiekkeuses. “Ek kan myself makliker uitleef in ’n liedjie as ek self al die dinge ervaar het wat in die lirieke geskryf is.”
As Monique enigiets anders in die lewe kon doen sou sy ’n onderwyser of veearts wou wees. Sy voel nog altyd dat sy ’n roeping het om met kinders of diere te werk.
Haar troubeplanning neem tans baie van haar tyd in beslag, maar sy is vasberade om die mooiste troue moontlik te hê! Tussenin wil sy graag nog minstens twee enkelsnitte en ’n musiekvideo binnekort vrystel.
As jy haar vra wat die musiekbedryf haar al geleer het, antwoord sy:
“Ongelukkig bly ’n mens net veilig as jy nie te veel mense vertrou nie. Ek het geleer dat min mense my werklik goedgesind is.
’n Mens sal ook niks oorkom wanneer ander lelike goed oor jou sê nie, want die meeste mense maak net vieslike uitlatings omdat hulle self so verbitterd is.”
Nie net sal aanhangers aanklank vind by Weggebreek se mooi deuntjie nie, maar sal die boodskap van oorwinning ook diep spore in aanhangers se harte trap omdat so baie mense sal kan vereenselwig daarmee.
Weggebreek is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier: https://ffm.to/monique-west-weggebreek
Download die liedjie vir hoë gehalte: Kry dit hier: https://drive.google.com/drive/folders/1BEn8KLwlOxV0KLbwMuR7pWlhg71l_x40?usp=share_link
Hoë Resolusie Cover: Kry dit hier: https://drive.google.com/file/d/1jjcp12sFkuUMZqUwwY7mEy_yU1XasXpE/view?usp=drive_link
Musiekvideo is beskikbaar om af te laai. Kry dit hier: https://drive.google.com/file/d/1r4E68uB2FmAS2uTNURNnzdXZFMbIewSh/view?usp=sharing
ISRC: QZYFZ2514140
UPC: 7316481377924
Volg haar op sosiale media:
Facebook : Monique West – Singer
TikTok : @moniquewest.singer
Instagram: @moniquewestsinger



