
‘n Nuwe verwerking van die trefferliedjie With All My Heart is pas vrygestel, ‘n samewerking tussen die Engelse aktrise en sangeres Kerry Ellis en Dr. Wilhelm Lichtenberg – Suid-Afrika se eie Singende Chirurg.
Opbrengste uit die stroom van hierdie nuwe vrystelling, wat beskikbaar sal wees op alle toonaangewende platforms, insluitend Apple Music, iTunes, Spotify en YouTube Music, sal gebruik word om hartchirurgie te befonds vir behoeftige jong Suid-Afrikaners met ernstige hartsiektes.
Lichtenberg is die stigter van Young Hearts Africa, ‘n Suid-Afrikaanse niewinsgewende organisasie, wat fokus op die moontlikmaking van die bogenoemde lewensreddende prosedures vir die mees kwesbare lede van die samelewing. Sy passie vir beide medisyne en musiek het hom reeds internasionale erkenning besorg.
Aangebore (kongenitale) hartsiekte (KHS) verwys na ‘n reeks geboortedefekte wat die funksie van die hart beïnvloed, met oorsake wat verband hou met genetika, omgewingsfaktore, moederlike gesondheid en sosio-ekonomiese toestande. In Afrika suid van die Sahara staar kinders uit arm agtergronde beide ‘n hoër risiko in die gesig om met KHS gebore te word en aansienlik verminderde toegang tot lewensreddende mediese sorg.
Elke jaar word letterlik duisende kinders óf met hartdefekte gebore, óf kry hulle rumatiekkoors, wat kan lei tot rumatiese hartklepsiekte. Van die meer as 4000 – 5000 operasies wat net in Suid Afrika nodig is om hierdie kinders en jong volwassenes te help, word minder as 800 in die staatsektor uitgevoer, waarop 85% van die Suid-Afrikaanse bevolking staatmaak vir mediese sorg. Dit is as gevolg van ‘n ernstige gebrek aan fasiliteite en opgeleide gesondheidssorg personeel, gekombineer met die enorme koste daaraan verbonde, met elke operasie wat meer as R500 000 kos.
Sedert die loods van die stigting in 2022 het Young Hearts Africa die lewens van meer as 30 bykomende kinders met aangebore hartsiektes verander deur middel van kritieke hartoperasies by die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad. “Ons is ongelooflik dankbaar dat ons die ekwivalent van ‘n klaskamer vol kinders kon red. My doel is om die lewens van ‘n hele skool te red. En dis net die begin,” sê Lichtenberg.
Young Hearts Africa was onlangs in die nuus met die hartroerende storie van die suksesvolle lewensreddende operasie wat by die Netcare Christiaan Barnard Gedenkhospitaal in Kaapstad op baba Kendreya Pillay van Durban uitgevoer is. (https://youngheartsafrica.org/when-every-breath-counted-strangers-stepped-in-to-save-baby-kendreya/)
With All My Heart is die tweede samewerking tussen Lichtenberg en Ellis om fondse in te samel vir Young Hearts Africa, ‘n saak wat Ellis sterk ondersteun. Dit volg op hul 2022 vennootskap met Sir Brian May, die legendariese kitaarspeler van Queen, vir hul weergawe van May se liedjie, Who Wants to Live Forever.
Ellis is ‘n leidende figuur in musiekteater en het reeds wêreldwye erkenning verwerf vir haar vertolking van Elphaba in Wicked, beide in Londen se West End en op Broadway. Sy is die eerste Britse aktrise wat die rol voltyds vertolk het. Sy het ook reeds verskeie ander prominente rolle uiters suksesvol vertolk, insluitend hoofrolle in We Will Rock You, Les Misérables, Oliver, Cats en Miss Saigon. Buiten die verhoogoptredes, het Ellis ook aansienlike welslae as ‘n opnamekunstenaar behaal, veral deur haar talle samewerkings met Sir Brian May. Sir Brian is self ‘n ambassadeur vir Young Hearts Africa.
With All My Heart is oorspronklik in 2013 geskryf en vervaardig deur die wêreldbekende komponis, vervaardiger en musiekdirekteur, Sean Butler. Hierdie nuutste enkelsnit bly getrou aan sy Suid-Afrikaanse wortels, met behulp van die Suid-Afrikaanse Jeugkoor en produksie deur die bekende Suid-Afrikaanse klassieke pianis, komponis, verwerker en musiekvervaardiger, Dr Riaan Steyn. Dit bevat optredes deur Elzaan Steyn op viool, Dane Coetzee op tjello, en die bekende Suid-Afrikaanse kitaarspeler, Mauritz Lotz op elektriese kitaar. Lotz self word erken as een van Suid-Afrika se voorste kitaarspelers, nadat hy oor die afgelope 40 jaar tot meer as 4 000 opnames bygedra het. Hy het ook saam met kunstenaars soos Hugh Masekela, Lucky Dube en Miriam Makeba gewerk, asook internasionale kunstenaars soos Chris de Burgh.
“Gegewe Suid-Afrika se sukkelende ekonomie, die dreigende moontlikheid van ‘n resessie en die krimpende staatsbefondsing, is private skenkings nou meer as ooit nodig. Ek daag elkeen van my mede-dokters in Suid-Afrika uit: As elkeen van ons net R100 sou skenk, sou ons genoeg geld kon insamel om ten minste nog 10 lewensreddende operasies uit te voer,” sê hy. Hy rig ‘n ernstige beroep ander professionele persone, organisasies, korporasies en die breër publiek om Young Hearts Africa te ondersteun en te help om toegang tot lewensreddende hartoperasies te vmoontlik ter maak.
Met nuwe loodsprojekte wat binne die komende maande in die Wes-Kaap van stapel gestuur word en planne om in die nabye toekoms na die res van Suid-Afrika uit te brei, sowel as uiteindelik oor die volgende dekade na o.a. Zimbabwe, Botswana, Zambië, Kenia, Uganda en Nigerië, beoog Young Hearts Africa om die lewens van duisende van Afrika se kwesbaarste jong lewens te red.
Die organisasie het reeds verskeie gesogte toekennings ontvang wat sy impakvolle werk erken, insluitend die 2024 Thoracic Surgery Foundation se Every Heartbeat Matters-toekenning, waar Lichtenberg vereer is vir sy humanitêre chirurgiese uitreikpogings, die enigste Afrika-ontvanger onder 14 wêreldwye wenners.
“Baie mense assosieer hartsiektes met ouer volwassenes, maar in werklikheid is aangebore hartsiektes en rumatiese hartklepsiektes, wat hoofsaaklik kinders en jong volwassenes affekteer, ‘n beduidende las op hulpbronne en, op die lang termyn, op gemeenskappe en die ekonomie as geheel. Met tydige chirurgie kan hierdie kinders die kans kry om gesonde lewens te lei en by te dra tot die toekoms van Suid-Afrika,” sê Lichtenberg.
Vir meer inligting, besoek https://youngheartsafrica.org/


