Daar is niks so opwindend en spesiaal soos wanneer twee mense besluit om die res van hulle lewens saam te spandeer nie; en dit is presies waaroor die gewilde sanger, liedjieskrywer en musikant, Hugh Lynn, sing in sy splinternuwe enkelsnit, Ek Maak Jou Myne.
“Ek het altyd gewonder hoe dit gaan voel om die regte een te vra om vir altyd myne te wees. Hierdie liedjie is ’n verbeelding van daardie oomblik – vol opwinding, liefde en die gevoel dat jy weet, dis nou tyd,” verklap hy oor die inspirasie agter dié lekkerluister Afrikaanse poptreffer wat hy self geskryf en vervaardig het.



Volgens Lynn, wat sy nuutste uitreiking as ’n baie persoonlike poging beskryf, het hy feitlik al die instrumente wat op die liedjie gehoor kan word self gespeel en is die eindresultaat romanties en opreg, maar steeds dansbaar.
“Vir my beteken dit groei en toewyding om iemand regtig lief te hê. Ek het hierdie tema gekies omdat ek voel dis iets waarmee baie mense kan vereenselwig – daardie drome van ware liefde en die perfekte oomblik om dit uit te spreek,” deel hy. “Ek dink mense gaan hou van die balans tussen romanse en ritme. Dis catchy en eerlik en iets wat jy saam met jou maat kan luister; in die kar, by die huis, of op die dansvloer.”
Om dié projek nog meer spesiaal te maak, word die snit gekomplementeer deur ’n opwindende musiekvideo, met pragtige dansers wat die energie en vreugde van die lied perfek vasvang.
Met hulp en insette van The Artist Village, het Gerduan Kemp Photo & Film, as videograaf en vervaardiger, Ek Maak Jou Myne op ’n unieke manier op kamera vasgevang.
Hugh sê: “Ek wou iets maak wat modern, stylvol en dromerig voel, maar steeds persoonlik is. Die boodskap wat ons wou oordra, is dat as jy iemand liefhet, jy dit moet wys. En as die oomblik reg is – doen dit!”
Die video is tans op die kassie en op YouTube te sien.
Ek Maak Jou Myne is die musikant se negende enkelsnit en verskeie van sy vorige vrystellings het goed gevaar op stromingsplatforms, sosialemediakanale en radio-treffersparades.
Hugh beskryf homself graag as ’n stadskind met ’n kitaar en ’n tydlose klank – iemand wat hou van eenvoud, maar diep voel.
Van kleins af het hy hom in die wêreld van musiek verdiep: eers op ’n ou klawerbord, toe kitaar, dromme, en later met gesofistikeerde produksietegnieke wat sy werk vandag kenmerk.
Hy is nou al vier jaar professioneel aktief in die musiekbedryf, ná byna sewe jaar van selfontwikkeling en voorbereiding.
Nie net spog hy met ’n sesjaar diploma en B.Sc-graad in klankingenieurswese nie, maar hy het ook al naam gemaak agter die skerms as deel van die span by Muse Studios, wat gereeld met groot name soos Eloff, Barto en Kurt Darren werk.
Volgens dié veelsydige kunstenaar, word sy musiek – ’n mengsel van pop, rock en folk – gevorm deur regte stories en egte emosies en sy styl beïnvloed deur musikante soos Elandré, Riaan Benade, Appel, Ed Sheeran, George Ezra en Coldplay.
Hy beskou nederigheid en harde werk as die hartklop van sy loopbaan en glo dat ’n mens nie alles hoef te weet nie, maar dat jy alles moet gee.
Al is hy eintlik skaam van aard, is dit juis musiek wat hom die selfvertroue gee om voor mense te staan en iets van betekenis te deel, en daarom is elke geleentheid wat hy kry om lewendig op te tree vir hom ’n groot hoogtepunt.
Tans is hy besig om te werk aan nog nuwe musiek en musiekvideo’s, en beplan hy ook kliphard aan ’n mini-toer.
Hy is vasberade om aan te hou ontwikkel as ’n kunstenaar en om ’n besonderse loopbaan te bou, met goeie musiek wat by oud en jonk aanklank vind.
“Ek wil mense se harte aanraak, hulle laat dans, laat droom en laat voel. My droom is om op die grootste verhoog in Suid-Afrika op te tree vir ’n gehoor wat spesifiek gekom het om my te sien,” sluit hy af.
Ek Maak Jou Myne is nou aanlyn beskikbaar. Kry dit hier: https://linktr.ee/hughlynn?utm_source=linktree_profile_share<sid=ca88c711-db68-4ad9-b753-58dea1de9bb7
Volg hom op sosiale media:
Facebook: https://www.facebook.com/HughLynnMusic
Instagram: @hughlynn_
TikTok: https://www.tiktok.com/@hugh.lynn




