Karin Bekker  – Skyn

Op die publisiteitsfoto van sosialemediabeïnvloeder en sangeres Karin Bekker se jongste enkelsnit, Skyn, verskyn daar agt weergawes van haarself; op die voorgrond is die regte Karin – hare ontgetem, gesig skuins na die kamera gedraai. Op die agtergrond is daar sewe refleksies van die ander Karin; haar publieke personas, die verskillende persoonlikhede wat sy daagliks moet wees om by die samelewing in te pas.

’n Geel weerligstraal blits deur haar naam asof dit skreeu: “Ek “skyn nie heilig” nie. Ek is nie soos die ander nie. Ek is net soos myself.”

Skyn mag dalk op die oppervlakte soos ’n ligte melodieuse popliedjie klink, maar die dieper betekenis van die woorde is verskuil in die boodskap dat ons nie meer “boksiemense” moet wees nie, maar eerder ons individualistiese stelf.

Dit is ook die sentrale tema van haar jongste enkelsnit: skyn. Die woord is al in sommige gevalle só oorbenut dat ons vergeet wat dit werklik beteken. Dit  kan verskeie betekenisse hê, afhangende van die konteks. Letterlik verwys dit na die verskyning van lig of glans, soos wanneer die son helder oor die berge skyn, wat dui op die uitstraal van lig.  Skyn kan ook beteken dat iets voorkom asof dit waar is, maar nie die werklike geval is nie.

Karin, wat al die ligte én donker kant van sosiale media ervaar het, sê dat sy haar hele lewe lank in boksies moes leef waarin sy geoordeel en gestereotipeer is op grond van haar kleredrag, persoonlikheid of denke.  “In die wêreld van sosiale media –  soos TikTok, Facebook en Instagram  – word ons voorgesê oor hoe ons moet dink, wat ons moet sê, en hoe ons moet glo,” sê sy.

“ Mense wil eerder inpas as hom hulself te wees.”

Dié snit verskil merkbaar van an haar vorige enkelsnit, Net reg, wat sowat twee jaar gelede uitgereik is. Dit was ’n loslit liefdesbalade wat gepeins het oor die perfekte liefde wat iewers op jou lewenspad wag.

Skyn het wel ’n moderne popaanslag, maar die boodskap vind iewers tussen die ritmiese musiek ’n inslag – ’n boodskap wat jou anders na die lewe kyk.

Karin is al meer as twee dekades in die vermaakbedryf doenig, en sy is – meer as baie ander – bewus van die maskers wat mense daagliks dra. “Die lirieke van Skyn bevat baie biografiese elemente, want ek het net moeg geraak vir mense wat nie hul volle potensiaal uitleef nie – wat nie hul lig laat skyn nie.”

“Dís waaroor die liedjie gaan: Skyn is absoluut gebaseer op die feit dat ek moeg geword het om mense dop te hou wat hulself terughou – wat nie hul volle lig uitstraal nie, omdat hul lig vir ander té helder is,” vertel sy.

“Skyn jou volle potensiaal uit en skreeu dit uit, want die wêreld wil jou stem smoor. Ek sê nie ons moet ons persoonlikhede verander nie – ek wil net mense smeek om hul harte te laat skyn. Gee vir die wêreld wat dit nodig het – ’n  helder lig. Jy moet pret hê, uit jou maag lag, met vreemdelinge glimlagte uitruil. Probeer iets nuuts, solank ons net almal skyn.”

Karin is gebore vir die verhoog. Sy het drama op skool geneem, maar het toe al ook besef dat sy ’n unieke stem en besondere sangtalent het.  Sy was onder meer lid van die Jakaranda-kinderkoor en het aan verskeie sangkompetisies deelgeneem – waarvan sy die meeste gewen het.

Haar stem het haar tot die hoogste goue hoogtes gevoer, en mense het begin luister. Sy het al die verhoog gedeel met kunstenaars soos Lloyd Cele, Elvis Blue, Pieter Koen, The Parlotones en vele ander.

Sy was reeds in  graad 10 ’n kinderster nadat haar debuut-gospelalbum Vader, Seun en Gees wat ’n gewilde keuse op radiospeellyste was.   

Drie jaar later het sy haar eerste sekulêre vollengte-album, Sonder jou, uitgereik.

Tussen die singery deur het sy ook by verskeie teaters gewerk – agter én voor die gordyne. Sy het boonop ’n BA-graad in Kommunikasiekunde verwerf, wat haar goed te pas kom in haar loopbaan.

Karin se stem strek van F3 tot A5, en sy kan in enige genre sing – selfs opera, waarin sy reeds haar debuut gemaak het.

Skyn is musikaal goed versorg, en dit is veral die vermenging van “neonklanke” met meer tradisionele pop wat dié snit besonder geslaagd maak.

Hoewel die musiek soos ’n soet suigstokkie in jou mond ontplof, is die lirieke soos ’n taaier Wilson-toffie – iets waaraan jy langer moet kou.

Die snit is opgeneem en tegnies versorg deur Riaan Swanepoel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *