“Ek skryf die song oor jou” is ’n tydlose liedjie wat iewers in jou kop gaan maal en draal.

Soos alle groot idees het die stigting van ’n nuwe groep ook op ’n laataand ontstaan—terloops, te midde van briljante musiek en slegte lewensbesluite.

Dié laataandsessie het geboorte gegee aan ’n opwindende nuwe groep, HKJK—’n pop-rockgroep wat die kuns van ’n goeie melodie bemeester het, maar ook deeglik bewus is dat liriek die grondslag van melodie vorm.

Hulle spiksplinternuwe debuut-enkelsnit, “Ek skryf die song oor jou”, is vir die X-generasie geskryf.

Dit is ’n moderne liefdesbrief—sonder fancy woorde, soos Antjie Krog sou sê. Dit is in loslit, gemaklike taal. Dit is ’n liefdesbrief wat op papier neergeskribbel is (ja, sommige tieners gebruik nog steeds pen en papier) en uiteindelik in musiek tot uiting gekom het.

HKJK bestaan uit Johan van Rooyen en Kosie Beukes. En indien die name vir jou vaagweg bekend klink, sit jy die musiekpot nie te ver mis nie. Beide is deel van verskeie kindergroepe, waaronder die 4 Eva Young Band, wat selfs ’n plek in die Guinness World Records verwerf het as die jongste musiekgroep ter wêreld.

Die twee jong manne sê: “Dit is ’n akroniem vir Hier Kom Johan en Kosie, maar hoewel die formule eenvoudig is, het dit ’n groot betekenis. Die naam vat alles goed saam—hier kom ons. Ons is gereed om die Afrikaanse musiekwêreld op sy kop te draai.”

Beide Kosie en Johan het hul kinderskoene ontgroei en delf met dié snit in die volwassenheid van liefde. Hulle besef ook dat verlief raak soms ’n gewigtige kwessie is, en om daardie maanskyn-en-rose in ’n liefdesbrief (in dié geval ’n liefdeslied) te verklaar, is ook ’n opdraande stryd.

Maar dié twee slaag daarin, en die raakvat-beskrywing resoneer sterk in die koorgedeelte:
“…met die kitaar se akkoorde en ’n paragraaf van woorde, sit ek met my pen en skryf hoe ek jou hart gaan wen…”

Johan vertel dat Kosie met die melodie vir die snit vorendag gekom het. “Al moet ek dit self sê—dit is so aansteeklik soos ’n goeie koortjie wat jy nie uit jou kop kan kry nie.”

Johan, wat nou ook ’n jong volwassene is, het die lirieke geskryf, terwyl Kosie die melodie op die kitaar uitgetokkel het. “Dit is regtig die inspirasie wat ’n kombinasie van talent en laatnag-koffie kan bring,” knipoog Johan.

Die boodskap van die snit is ook ’n wekroep om jou liefde te verklaar as jy van iemand hou. Moenie wag vir die perfekte oomblik nie, want dit gaan dalk nooit gebeur nie. “Die lied is ’n liefdesbrief wat die gedagte oor liefde gestalte gee,” sê Johan.

Nou ja, koor die twee, “Die song is daar, die storie is vertel, en die wêreld is gereed. Druk die akkoord, gryp die pen en skryf ook jou eie song oor dáárdie spesiale persoon in jou lewe.”

“Ek skryf die song oor jou” is ’n tydlose liedjie wat iewers in jou kop gaan maal en draal. Dit is ’n lied wat jy vir jou geliefde kan sing of dalk kan neurie (as jou eie note iewers vassteek).

HKJK gaan nog groot opslae in die musiekbedryf maak. Hulle is beide musikaal, talentvol en geesdriftig oor wat die musikale toekoms vir hulle inhou.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *