Hy sal nie nie meer lag, nie nie meer slaap en nooit weer iets vir homself…..
Sê wie?
Vernon sal aanhou lag, aanhou vasbyt, aanhou sing, want dit is wat hy doen al draai die wêreld soms skeef en krom.
Vernon het pas sy nuutste enkelsnit, Nie nie meer, uitgereik. Indien die snit en lirieke dalk iewers ‘n klokkie of ‘n deuntjie lui, sit jy nie die pot té ver mis nie, want Gert Vlok Nel het onlangs vir Vernon toestemming gegee om Afrikaans se volkseie Beautiful in Beaufort-Wes te herskryf en nuut te verwerk.
En die resultaat is pasknap-Vernon-perfek. Die woorde is eietyds aangepas; Huisgenoot het Netflix geword, en die storie het nie ’n gelukkige einde nie…
Die snit is vir die milleniërs (maar ook vir die seders) wat na ’n terugkeer van musiek-en-liriek smag, maar darem ook meer hedendaags oor die willens en wetens van die lewe begin dink en debatteer. Iets wat ook soms in musiek neerslag vind.
“Eintlik, vertel Vernon, is dit ’n tong-in-die-kies liedjie oor verlore liefde.” En dit is mos g’n romanties nie. Dit is eerder slapelose nagte, trane, verwyte en ’n sielsgekibbel oor dit wat nie nie meer sal wees.
Die snit klink dalk vaagweg soos Beautiful in Beaufort-Wes, maar dit is waar die ooreenkomste eindig. Dit is allermins ’n herskepte of aangepasde weergawe van die oorspronklike snit. “Dit is net geïnspireer deur die oorspronklike snit,” sê Vernon. “ Ek het wel die oorspronklike koor behou, maar het die splinternuwe lirieke in ’n moderne konteks skryf.’’
Hoewel die woorde deurdrenk is – sonder om stroperig te word – met nostalgie en verlange word die melodieë gerugsteun deur ’n kombinasie tussen Afrika elektro-pop (dáárdie elektroniese klanke val so lekker op die oor) en speelse instrumentasie.
Vernon het in 2016 wêreldwye bekendheid verwerf met sy deelname aan The Voice South Africa. Die publiek was sinneloos oor sy emosionele weergawe van One Direction se liedjie Story of My Life wat hy tydens die “blinde oudisie” gedoen het.
Die sanger Bobby van Jaarsveld het onmiddellik omgedraai en sommer ook in trane uitgebars toe hy besef het dat Vernon blind is. Bobby het later ook as mentor vir Vernon opgetree.
Hoewel Vernon nie gewen het nie, het sy naam sinoniem geraak met aanhou, uithou en weer probeer. Sy loopbaan het hom na verskeie verhoë geneem en ook nominasies en toekennings die sak besorg.
Terugslae is ’n woord wat Vernon baie goed ken. Hy het sedert sy kinderdae oogprobleme gehad en het uiteindelik sy sig verloor weens ’n gloukoom. Sy linkeroog het uit ’n prostese bestaan terwyl sy regteroog nog blink-blou gelag het. Sy regteroog is egter ook vroeër die jaar verwyder nadat drukking en pyn hom nagte uit die slaap gehou het. “Ek dink nie dit was die beste besluit om my regteroog te verwyder nie, maar ek sien tog God se hand daarin raak,“ sê Vernon wat deesdae weer in sy ouerhuis in die Weskaap woon.
Vernon het ’n diep baritonstem, maar hy het die vermoë om hoogtes te bereik wat sy vertolkings ekstra impakvol maak. Sy stem het ‘n rustige, intieme kwaliteit wat hom in staat stel om baie gevoel in sy optredes te sit wat dit vir luisteraars maklik maak om by sy musiek aanklank te vind. Sy styl is oor die algemeen rustig en bedagsaam, maar met Nie nie meer is daar ’n nuwe amper ’’ongeskikte“ kwaliteit wat bewys dat hy met gemak tussen sielvolle en meer hip-hopperige musiek kan beweeg.
’n Musiekkenner het eendag genoem dat Vernon oor die vermoë beskik om hartseer, hoop en refleksie te bring deur die eenvoud van sy benadering. Met sy nuwe snit bring hy ook aweregste hoop:’’Things are not so bad, tjom, You will also survive this break-up.”
Na alles, sê Vernon, is dit tog ’n break-up song. ’n Lied vir almal wat al liefgehad het, verloor het, en steeds (al probeer hul net) daaroor kan lag.’”