Die sanger Vellies se publisiteitsfoto vir sy debuutenkelsnit, Whisper, jubel sommer al klaar dat hy ’n “lekker man” en sommer nog ook ’n “lekkerder sanger” is. Sy retro-armmanspet is so ’n American-mostertgeel; sy hemp knalkanariegeel en sy veldskoene karamelbruin. ’n Seun van Afrika wat country met ’n Suid-Afrikaanse twang sing.
Vellies, wie se bynaam (en sommer ook later sy verhoognaam) ontleen is uit sy voorliefde vir die eeue-oue skoeisel, maak dié maand sy toetrede tot die speellyste met sy debuutenkelsnit, Whisper.
Dit is ’n loslit-pop-country snit waarop die luisteraar óf vinnig kan sokkie-sokkie of heup-teen-heup kan chucka-chucka.
Hoewel Vellies nog nooit sy liedjies aan radiostasies uitgereik het nie, is hy al dekades in die vermaakbedryf. Casino-gangers sou hom dalk al gehoor het by een van die vele vermaakpunte.
Ja, hy het groot kontrakte by onderskeie van ons land se casino’s losgeslaan waar hy al hul vermaak, wat liedjies in verskeie genres insluit, aangebied het. Hy was al op ons land se grootste verhoë en het ook as “wedding singer” by meer as 800 troues opgetree.
’n Mondvol…
Maar sy musiek is net so ’n mondvol. Whisper is ’n Engelse liefdessnit wat nie fladders en vlinders verkondig nie, maar meer op die emosionele aspek van die liefde fokus.
Hy sing daarom ook …“I want to whisper I love you in your ear…”
Die snit, sê hy, is ’n meesleurende country-ballade wat direk met paartjies se harte praat. “Ek dink die snit bring die kern van die liefde mooi bymekaar. Paartjies moet weer leer om hulle gevoelens op ’n meer intieme manier te verwoord, iets wat dalk in ons gejaagde lewe ongehoord is.”
Vellies en Gerhard Roux het die snit so saam-saam neergepen. Jaco glo dat die snit se boodskap uit die hart kom omdat hyself gelukkig getroud is. “Die snit moedig ook paartjies aan om rustiger te raak en die “stil-oomblikke” in hul lewens saam te geniet. Paartjies moet besef dat die liefde soms ook fluisteroomblikke nodig het, want dit kan die emosionele band versterk.”
Vellies het in die Vrystaat groot geword waar sy stem al van jongsaf oor die vlaktes gebulder het. Só is hy toe ook vir die Drakensberg Seunskoor gekeur, maar weens die finansiële las wat dit op sy ouers se skouer sou plaas, het hy besluit om nie die skool by te woon nie. In graad tien (standerd 8) het hy ’n lid van die Vrystaat Jeugkoor geword, maar na drie jaar het sy stem (en sy talent) hom in nuwe rigtings geneem.
Vellies het reeds aan ’n paar nuwe enkelsnitte begin werk en wil dit binnekort uitreik.
Whisper is ’n lekkerluistersnit wat by ou getroude paartjies en jong liefdesduifies sal aanklank vind.