DEON HUMAN NOOI LUISTERAARS UIT OM TE BRAAI MET NUWE ENKELSNIT

Wanneer aanhangers na Deon Human se splinternuwe enkelsnit, Kom’s Braai, luister, sal die denkbeeldige reuk van ’n Suid-Afrikaanse braaivleisvuur alreeds swaar in die lug hang. 

Die humoristiese lirieke van die Afrikaanse dans-popsnit, wat deur Ferdinand Skead van Skead Records vervaardig is, het gevloei uit hierdie talentvolle musikant en liedjieskrywer se eie pen. Dit gaan oor vriende wat tjoppies braai en daarvan hou om lekker te kuier in ’n vakansie-atmosfeer.

“Een aand by ’n braai by vriende se huis het ons gesing en kitaar gespeel en toe vra hulle my om ’n lekker braai-liedjie te skryf,” verklap die sanger oor hoe die liedjie ontstaan het. “Kom’s Braai was my vervaardiger, Ferdinand Skead, se idee gewees. Ons wou nie ’n normale titel soos ‘Ons wil braai’ gekies het nie.”

Kom’s Braai is die kunstenaar se vierde radio-vrystelling. Al drie sy vorige enkelsnitte is baie goed deur die publiek ontvang en het selfs ’n internasionale resensie gekry op Spotify. Sy eerste enkelsnit, Met U Liefde, het speeltyd op dertien radiostasies geniet en sy tweede, Beste Pel, het ook ’n hele paar nommer-een-plekke ingepalm.

Deon glo dat die publiek sy nuutste uitreiking net so goed sal ontvang, want dis ’n voelgoed-liedjie waarmee elke Suid-Afrikaner sal kan vereenselwig, aangesien ons ’n nasie is wat daarvan hou om te braai en gesellig te verkeer.

Die 39-jarige sanger woon in Wonderboom in Pretoria. Hy is al vir dertien jaar gelukkig getroud en het nog geen kinders nie. Hy het klankingenieurswese by Academy of Sound Engineeringen bemarking by IMM studeer. Bedags werk hy aan sy twee besighede wat meubels vervaardig vir meubelwinkels en ook meubelhardeware invoer vir die meubelbedryf, en dit hou hom op sy tone.

“Musiek was nog altyd my passie en ek speel elke aand vir minstens ’n uur of twee kitaar, waar ek liedjies skryf of ander liedjies oefen om hulle goed te kan speel. Ek probeer ook liedjies skryf wat gaan werk vir radio en ek moet erken dat dit nie altyd maklik is nie,” verduidelik hy.

Baie van sy liedjies het al radiospeeltyd gekry, maar is nog nie op groot kommersiële stasies gespeel nie. Dit is een van sy grootste ambisies dat hy eendag ’n liedjie sal skryf wat hierdie groot mylpaal sal behaal.

Die sanger se liefde vir Afrikaanse musiek het ontstaan toe hy meer na Afrikaanse musiek begin luister het. Nie net gee hy aandag aan die lirieke en ritmes nie, maar ook hoe dit vervaardig is. Dromme, klaviere, kitare, stemme en sintetiese klanke is maar net ván die elemente waarna hy aandagtig luister. 

Groot name in die bedryf na wie hy opkyk, is Riaan Benadé en Albert de Wet en as hy met enigiemand kon saamwerk, is Benadé en Appelheel bo aan sy lys.

Deon het al die verhoog gedeel met die wêreldbekende groep, Seether, toe hy, sy broer en Freddie deelgeneem het aan Tuks FM se Battle of the Bands en vir hulle geopen het. Hy reken dat hierdie ervaring een van die hoogtepunte van sy loopbaan is.

Die musiekbedryf het vir die sanger al baie lesse geleer, maar die belangrikste een waarmee hy wegstap is dat ’n mens baie tyd en geld moet insit om musiek vry te stel en nie almal besef dit nie. Om ’n voltydse musikant te wees is ook nie binne almal se bereik nie

Positiwiteit is belangrik vir hierdie lighartige Afrikaanse liedjieskrywer en hy is opgewonde oor die feit dat hy en Ferdinand Skead aan drie splinternuwe enkelsnitte werk vir 2025.

Kom’s Braai is net ’n druppel in die emmer van wat hy vir die toekoms beplan en hy glo dat daar nog groot dinge op hom wag in die toekoms. Kom’s Braai is nou beskikbaar op alle stromingsplatforms.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *