Hy is wat die Italianers sal beskryf as uomo attraente; donker oë wat ’n barshou kyk, ’n weerbarstige punt-in-die-wind-kuif en spiere wat op die regte plekke bult…
Jay Gibson se aantreklike voorkoms kan aan sy Italiaanse herkoms toegeskryf word, maar as hy sy liedjies ink en die eerste note laat dawer doen hy dit in Afrikaans, “want die taal val so lekker op die tong en sekere dinge kan ’n mens ook net in Afrikaans uitbeeld,” vertel dié sanger aan die vooraand van die uitreiking van sy jongste enkelsnit Impulsiewe besluite.
Hoewel Jay nie ’n onbekende naam in die musiekkringe is nie en al optredes regoor die land gedoen het, was sy musiek nog altyd vir hom ’n persoonlike “road trip” wat in sy eie opname-ateljee begin het en iewers in die verlede op ’n CD beland het.
Terwyl sy stel dromme en kitaar nog altyd die pad saam met hom aangedurf het óf dit nou as paramedikus óf vuurvegter was, het hy gevoel dat die tyd nou eers weer reg is om Impulsiewe besluite op musiekstroomdienste bekend te stel.
Impulsiewe besluite was ’n gesamentlike skryfpoging van Jay en die bekende musiekmenger en -regisseur Hugh Lynn. Die snit is vars en nuut en kombineer tradisionele popklanke met ’n bietjie vyftigerjare swing.
Jay is op vierjarige ouderdom vir die eerste keer aan dromme bekendgestel. ’n Mens sal nie weet wat sy ouers van die gedoef-doef op ’n Sondagmiddag gedink het nie, maar toe die dromgogga eers byt was daar geen keer nie.
Kort voor lank het hy nog musiekinstrumente leer ken. Op dertienjarige ouderdom het hy die kitaar bemeester, maar dié instrumente was net die begin, want hy is al die afgelope paar jaar besig met musieklesse om ook die baskitaar, klavier en ukelele te bemeester.
Op sewentien het hy ’n plaaslike talentkompetisie gewen – wat vir hom ook nuwe musiekdeure oopgemaak het. Sy paaie het met van onder andere die ontslape Theuns Jordaan en Thys die Bosveldklong gekruis en hy het voorvertonings vir hulle begin doen.
’n Paar jaar later is sy eerste CD uitgereik. “Ek het ’n hele paar liedjies vir die CD, waaronder Facebook-girl, geskryf, maar ek het dit nooit aggressief bemark nie.”
Impulsief verwys gewoonlik na optree of reageer sonder noukeurige nadenke of oorweging. Dit word gekenmerk deur spontaniteit en ’n gebrek aan selfbeheersing. “Ek was my lewe lank ’n waaghals gewees en my lewe is gekenmerk deur ondeurdagte, impulsiewe besluite. Ek het dinge aangepak sonder om aan die gevolge te dink, maar ek het intussen ook meer verstandig geword,’’ spot hy.
Dus kan die snit, eerstens beskryf word as ’n metafoor van sy eie lewe, en tweedens as ’n liefdespopliedjie wat ook op baie vlakke letterlik vertolk kan word.
Die liedjie handel oor twee geliefdes wat op ’n road trip gaan en iewers die pad byster raak (verdwaal) en dan impulsiewe besluite moet neem om weer die pad te vind. Jay het ook ’n musiekvideo van die snit gemaak en gaan ook binnekort uitgereik word.
Jay is ’n poprocker met ’n skeutjie Ray Dylan en ’n geurtjie Nicholis Louw, maar hy het tog ook sy eie stem in die plaaslike popmark gevind. Hy het meesterlike beheer oor sy stem en die swing in die koorgedeelte maak dit ’n ideale dansliedjie wat by troues, om die braaivleisvuur of by lekker partytjies gespeel kan word.
Impulsiewe besluite is ’n lekkerluistersnit wat by oud en jonk byval sal vind.