Botter is terug met nog ’n enkelsnit, Fire in my heart, waarmee hy ook amptelik sy toetrede tot die Engelse musiekmark maak.

Botter figureer op verskeie maniere in baie tale: Dink maar aan die Engelse idoom to butter someone up of die liplekker Afrikaanse uitdrukking: botter kan nie in jou mond smelt nie.

Nou ja, nou het ons ook ons eie klontjie Botter in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf by name van Peet van den Berg.

Maar Peet het sommer al lankal vergeet dat dít  eintlik sy regte naam is, want sedert sy universiteitsdae aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) staan hy as Botter bekend. Dié bynaam ontleen uit sy ronde lyf….

“Ek was redelik oorgewig en my vriende het lekker gespot dat ek net soos ’n stuk botter is omdat ek so propvol cholesterol was.”

“Ek het die afgelope drie jaar aansienlik baie gewig verloor en nou kan ek darem met laevet-margarien vergelyk word,” knipoog hy, “maar ek het besluit om die bynaam as verhoognaam te gebruik.”

So het Botter sowat twee jaar gelede sy eerste enkelsnit, Bly ’n dromer, uitgereik, en tot sy eie verbasing het dié moderne rock-popsnit op radiostasies se trefferparades geboer.

Dié snit is ook dié jaar in twee kategorieë vir ’n Afri Indie-toekenning genomineer.

“Nadat ek my werk as finansiële beampte verloor het, het ek sewe jaar gelede begin optree. Ek moes tog my brood en botter op ’n manier verdien,” knipoog hy.

Nou is hy terug met nog ’n enkelsnit, Fire in my heart, waarmee hy ook amptelik sy toetrede tot die Engelse musiekmark maak.

Botter is al geloof vir sy veelsydige stem en vir die manier waarop hy blitsvinnig tussen verskillende musiekgenres kan beweeg.  Hy kan opera soos ’n wafferse Pavarotti sing, die lirieke laat kreun soos Koos Kombuis en kan ook sy stem popprins hou, mits hy nou die dag lus is daarvoor.

Fire in my heart is egter rasegte country so uit die hartland van Nashville. Dit is tradisioneel verhalend en vertel die storie van liefde wat (nou nie soos botter nie), maar soos ’n vuur in die harte van bemindes brand.

“Die liedjie” , vertel Botter,” handel in kort oor daardie gevoel wat jy kry as jy weet dit is nou uiteindelik die een wat vir jou bedoel is.”

Op ’n manier het Botter oopkop binne die siel asook die hart van mense ingestorm. Enersyds handel die snit oor dit wat jy vir jou geliefde prysgee, maar andersins ook die liefdespassie wat nóóit ophou brand nie.

“Almal verdien tog ware liefde,” sug Botter.

Botter glo dat musiek nog altyd – wel soos margarien – deur sy are gevloei het. Hy was ses jaar oud toe hy voor 6 000 mense by ’n kerkfunksie opgetree het. Waar sy stemmetjie toe suikersoet was het dit goed verouder en nou is dit net so rou, opreg en rokerig soos die van die Camel-man.

“Musiek, sê die sanger van Alberton, was maar nog altyd deel van sy lewe. Ek het in onder ander die Oosrandse Jeugkoor en die RAU-universiteitskoor gesing.’’

Sy lewe het eers in ander rigtings beweeg voordat hy hier in sy middeljare (vir die eerste keer) op groot verhoë gesing het. “Ek het tydens my beginjare die voorreg gehad om die verhoog met Ghapi te deel. Later het ek begin om voorprogramme vir verskeie bekende name soos onder meer Bok van Blerk, Nicholis Louw en Jo Black te doen.”

Dit is ook, tydens dié vertonings, wat gehore bewus geraak het van die “ronde sanger” met sy reusestem.

Dit is nou al ’n paar jaar later en Botter se musiek, liriek en klank het al hoe meer by Suid-Afrikaners geresoneer. Die terugvoer op sy vertonings is ook postief.

Miskien is dit sy gespikkelde bokbaard, die riempies om sy pols, die swart oorbel in sy lel óf dalk sy hoekige lyf.

Hoe ookal, Fire in my heart, se lirieke spreek ’n emosionele tema aan (liefde is altyd emosioneel), en die melodieë en lirieke sal iewers in jou geheue vassteek. 

Die snit is geskryf, musikaal versorg en opgeneem deur die bekende sanger Vincent Gordon.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *