Die bekroonde sanger John Morland is dalk nie ’n nuwe stem in die Afrikaanse musiekbedryf nie – maar sy jongste enkelsnit, Anker my, gee in vele opsigte ’n nuwe betekenis aan die woord popmusiek.
Dit is ’n snit wat nie losstaan van die lirieke nie; musiek en liriek versmelt in ’n liefdesballade wat jou “vasmaak” of “grond” veral in dáárdie choatiese tye in jou lewe.
Die Afrikaanse uitdrukking Anker my impliseer ook dat iets of iemand jou stabilitiet, veiligheid, en rustigheid gee. Dit kan ook verwys na ’n persoon, geloof, beginsels of enigiets wat jou lewe sin en balans gee.
Vir John is die anker in sy lewe sy vrou, Mia. Dié snit is ook aan haar opgedra. “Ek het in 2019 die liefde van my lewe in seker een van die onromantiese plekke op aarde ontmoet; by die Wimpy in Krugersdorp.”
“Ek was in daardie stadium ’n harde mens, ’n mens wat deur die lewe teleurgestel is. En toe ontmoet ek dié meisie wat my weer geleer om sag te wees, om te gee, lief te hê en God se liefde beter te verstaan.”
John, wat al op verhoë regoor die land opgetree het, se naam het in 2015 in die musiekkringe klokkies begin lui toe hy in 2015 aan Top Country deelgeneem het. Hy het ook dié kompetisie gewen. ’n Vollengte album, Eerste Ronte, is uit die kompetisie gebore en daar het ook dertien oorspronklike snitte soos Prinses, Genade en Jy laat die Vuur brand uit sy pen verskyn.
John is in Pretoria gebore, maar het aan die Wesrand grootgeword – dit is ook waar hy nog vandag woon. “Ek was van jongsaf verslaaf aan musiek en het veral saam met Steve Hofmeyr, Neil Diamond en Gé Korsten se musiek gesing. ’’
Anker my, vertel hy, is eintlik in die hospitaal gebore. “Ek het in 2022 in die hospitaalbed beland en het uit pure verveling op my Facebook rondgeblaai. Dáár het ek toe die naam Werner Beukes raakglees.”
Werner is ’n musiekvervaardiger en liriekskrywer en ’n paar reusetreffers het uit sy pen verskyn. “Ons het oor Whatsapp begin klits en hy het genoem dat hy ’n liedjie geskryf het wat vir my stem gemaak is. Die volgende oggend het die lirieke van Anker my op my foon beland. Dié woorde het net met my gepraat; dit het presies uitgebeeld hoe Mia my lewe verander het.”
Die liedjie eindig met …. ek hoor jou sê ja… ek sien jou… ek is werklik so lief vir jou…””
Onbewustelik, vertel John, het Werner die liefdeswoorde gebruik wat Mia altyd in sy oor fluister. “Mia het gereeld vir my gesê ‘Ek sien jou.’
“Ek het nooit verstaan wat dit woorde beteken nie, todat sy verklap het dat dit liefdeswoorde is; die verskuilde betekenis van ‘Ek is lief vir jou.”
John is ’n gewilde kunstenaar op feesverhoë en het al by onder andere die Welkom-fees. Rustenburg-fees en Brits-fees opgetree.
Hy is ook in 2023 bekroon vir sy gospelsnit Genade.
Hy is ook nou besig om nog ’n vollengte album op te neem.
John se strewe is om musiek te maak en nuwe hoogtes in die musiekbedryf te bereik. “Ek wil ook ’n inspirasie wees vir ander wat nie in hulself glo nie.”
Werner Beukes het Anker my opgeneem en tegnies versorg.
Anker my is ‘n radiovriendelike luisterliedjie wat by oud en jonk sal byval vind. Met die snit bewys John dat hy en Werner ’n wenkombinasie is.