Dans Dans Dans is ’n lekker ligte liedjie wat oor jong liefde handel en “’n meisie se hart laat klop-klop en stop-stop as sy die regte ou kry.”

Die Bee Bee die By- sangeres, Jeanette Pretorius, is terug op radiospeellyste met haar jongste enkelsnit, Dans Dans Dans.

Jeanette het die afgelope paar jaar bekendheid verwerf vir haar speelse kindersnitte- en karakters wat kinders soos bye om blommetjies laat dartel.

Nou het sy weer ’n volwasse popsnit uitgereik waarmee sy dansend en rooi-lip pruilend die skop terugsit in popmusiek. “Ek het die liedjie geskryf vir ’n kompetisie, maar nadat ek na die eerste opname van die liedjie geluister het, wou ek dit my eie maak,” vertel sy.

Dans Dans Dans is ’n lekker ligte liedjie wat oor jong liefde handel en “’n meisie se hart laat klop-klop en stop-stop as sy die regte ou kry.”

Dit is ’n borrelgomdanstreffer wat gemik is op langarm-sokkie en braaivleis-deuntjies. En vir dié doel is die snit uiters geslaag, want eintlik handel die snit oor dans. Die ritmiese klanke en die rympatroon maak dit maklik en eenvoudig vir almal om die woorde te onthou en saam te sing.

Tog, terugskouend handel die snit ook oor die dans as ’n kunsvorm wat die ritmiese beweging van die liggaam, op die maat van musiek, behels. Dans is so lank al deel van die mens se bestaan. Tekeninge wat uit die antieke tye dateer, bevat prentjies van mense wat dans – die bewys dat dans toe al van belang was. 

Dans is veral in die antieke tye verbind aan godsdienstige rituele of gebruik om ‘n volk se tradisies te vier en uit te beeld.

Dus, beeld die snit ook die Afrikaner se liefde vir dans uit…

Jeanette se heuningstem vermaak al Suid-Afrikaners vir drie dekades en sy het keer op keer – hetsy dit ’n kinderliedjie of ’n ballade is – dat sy een van Suid-Afrika se veelsydigste sangeresse is.

Sy het sedert die Covid-19 pandemie net op kinderliedjies gefokus en kleingoed vermaak met Bee Bee se stroopsoetstemmetjie. Toe maak sy verlede jaar haar terugkeer na die volwasse popmark met ’n enkelsnit, Trots Afrikaans, waarmee sy die draak steek met hedendaagse dinge soos beurtkrag, Charlize Theron se “vermetelde mening” dat daar net 44 mense is wat Afrikaans kan praat, en musiek wat soms so laf en los in ons lewens ronddans.

Jeanette het lank met  skrywersblok gesukkel en kon om die dood nie  kuierliedjies skryf nie. Maar dit blyk nou asof sy weer gemaklik met die skrywerspen kan omgaan, en Dans Dans Dans  is pure luisterplesier.

Dié snit is gaan in jou kop bly maal soos die die deuntjie van ’n roomyskarretjie. Dit het ’n speelse klank en ’n melodieuse toon.  Jou kop gaan knik, jou voete gaan ruk en jou lyf gaan saam met die musiek pluk.

Dans Dans Dans is vanielje-en-sjokoladeroomys. Dit is ’n snit wat by oud en jonk sal byval vind.  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *