Die bekendstelling van GEROEP VIR MEER – OM SUKSESVOL TE LEWE, die nuutste boek deur die gewilde akteur, entrepreneur en skrywer, Hykie Berg, was ’n reusesukses. Die boek het ook die nr 1 topverkoper posisie in die land behaal, binne slegs 2 weke!
Berg sê hy het eintlik nie woorde nie. “Jesus, Koning van my hart. Dankie aan my vrou Gerridene vir al jou liefde, geduld en bemoediging. Dankie Lemehtjie, familie en vriende asook Starburst Promotions vir julle ongelooflike insette en geloof in die visie vd boek, en dan ook my uitgewer Susan Jordaan by Lux Verbi dat jy my so bygestaan en uitgedaag het. En dan ook my innige dank aan elkeen waaroor ek in my boek kon skryf. Julle lewens en julle stories inspireer ons almal. Julle is die ware hero’s.”
Die glansgeleentheid, wat op 11 Oktober by B|Loved Klein Teater in Pretoria plaasgevind het, is deur ongeveer 90 gaste, waaronder die media asook talle bekendes, bygewoon. Gaste is met wyn van die gewilde Van Loveren-wynlandgoed bederf terwyl Berg oor die inspirasie vir die boek gesels en daaruit voorgelees het.
GEROEP VIR MEER – OM SUKSESVOL TE LEWE, sy derde boek, is geskryf vir diégene wat meer uit die lewe wil hê as net die gewone en alledaagse. Die boek daag jou uit om ’n droom en ’n visie vir jou lewe te hê en hoe om ware betekenis te vind.
Vir die gewilde en geliefde akteur en skrywer – wat onlangs benoem is vir ’n Silwerskerm- sowel as ’n SAFTA-toekenning – was dit ’n wonderlike ervaring om vir gaste meer oor dié inspirerende boek, waarin hy verklap wat hy die afgelope twee dekades oor sukses en hoe om dit te bereik geleer het, te vertel.
Berg, wat nog nooit gehuiwer het om openlik oor sy uitdagende verlede te gesels in ’n poging om ander mense se lewens te verander nie, het tydens die boekbekendstelling gesê: “Elkeen van ons is gebore om groot dinge te vermag. Maak nie saak waar jy vandaan kom of wie jou ouers is nie, hierdie boek sal jou help om ’n droom vir jou lewe te skep en dit te bereik. Dit bied die riglyne vir mense wat bereid is om aksie te neem, uit hul gemaksone te tree, en hulle vrese in die gesig te staar.”
Terugvoer was oorweldigend positief en gaste, wat onder andere Eric Holm, Odelle de Wet, Adrian Steyn, Angelique Gerber, Gerald Steyn, Simone Pretorius, Diaan Daniels, Clint Brink, Tiaan Massyn en Cobus Visser ingesluit het, was vol lof oor die boek én die man agter die publikasie.
“Hykie, liefste broer, dankie dat jy altyd vir my instaan wanneer ek nie kan nie, dis ‘n eer om jou vriend te wees. Die aand was baie spesiaal, die boek is so vol van Hykie se sê-goed en dis ongelooflik dat hy ‘n huldeblyk gebring het in ‘n biografie aan al die mense om hom en dit is raar dat mense in soveel detail hulle invloed in hulle lewe uitwys en eer,” sê Holm.
Volgens Berg kon die geleentheid nie beter verloop het nie. “Ek is dankbaar vir elkeen wat die bekendstelling bygewoon het en is ongelooflik opgewonde oor die belangstelling in my boek. Ek hoop dit inspireer mense om weer te begin droom en opgewonde te raak oor die eindelose moontlikhede wat die lewe bied en om die krag te ontdek wat binne elkeen van ons lê om ’n impakvolle lewe te lei.”
Om meer mense te help om hul lewens met hierdie transformerende lees-ervaring te verander, is die eerste drie hoofstukke van GEROEP VIR MEER – OM SUKSESVOL TE LEWE gratis op sy webwerf beskikbaar. Teken in op www.hykieberg.com om die PDF af te laai.
Hykie woon tans in Johannesburg en het buiten vir sy toneelspel, tans sy rol in Binnelanders, ook die voorreg gehad om as die wenner van Survivor Maldives gekroon te word- die fase van sy lewe waarin hy self tot bekering gekom het.
Hy het al in talle rolprente en TV-reekse verskyn, ’n rits suksesvolle projekte aangepak en is vandag nie net ’n bekroonde akteur en TV-aanbieder nie, maar ook ’n internasionale spreker, ’n suksesvolle entrepreneur en ’n topverkoper-skrywer.
Sy vorige boeke sluit in My Storie van Hoop, Ultimate Survivor (die Engelse vertaling van My Storie van Hoop) wat ook ‘n Tope Verkoper was en wat met die Andrew Murray Desmond Tutu-prys bekroon is, en My Stryd met ADHD-Die Onsigbare Oorlog.
Hy is ook die ambassadeur van Creative Kidz, ’n skool wat remediërende onderwys en ondersteuning bied aan kinders met leeruitdagings.
GEROEP VIR MEER – OM SUKSESVOL TE LEWE is aanlyn beskikbaar by: https://bit.ly/GeroepVirMeer of by uitgesoekte boekwinkels reg oor die land.
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/hykieberg?mibextid=kFxxJD
Instagram – @hykieberg
Threads – @hykieberg
Webwerf – www.hykieberg.com