Die Kemptonpark sanger Ronald Hart, het vyf maande gelede die Afrikaanse minnesangmark met sy enkelsnit, As die storm kom, soos ’n donderende tsoenamie getref.
Nou is hy weer terug op die radiospeellyste met ’n klassieke popballade, Ritme van my hart, wat anders as sy vorige snit, herinner aan ’n dansende melodie, vinnig en opgewonde, wat klop in harmonie met die gelukkige vlindertjies in die maag.
Die liedjie, wat deur Werner Beukes geskryf is, is pasknapperfek vir Ronald se stem. Enersyds, bewys Ronald dat hy veelsydig is en soos ’n musikale tuimelaar tussen minne- en popliedjies kan rondbeweeg; andersyds bewys hy ook dat liefdespop nie noodwendig blou kougom is nie.
“Die liedjie, vertel dié sanger wat steeds in Kemptonpark woon, handel oor die liefde tussen twee mense; diep liefde wat in tye van nood, siekte en dood, daar sal wees vir mekaar.”
Die sanger maak dit ook duidelik dat ’n mens nie te bang moet wees om ’n kans op liefde te vat nie – nee, wat – daarvoor is die lewe (of dalk ’n droom) net te kort. Hy lê ook sterk klem op “om kanse te waag” in die koorgedeelte van die snit: … “Is jy bang, bang of ’n dooie Jan, Jan….”
Hieroor sê Ronald: “Moet nooit bang wees om te dans op die ritme van jou hart nie, want jou hart sal altyd die waarheid vertel.”
Ronald, wie se van ook ironies genoeg ‘Hart’ is identifiseer drie tipe hartkloppe in die snit; die eerste hart is ’n bang hart. “’n Bang hart, sê hy, is meer gedemp en ongelyk met versnellings en vertragings, soos ’n skaapagtige polsslag wat versnel wanneer die vrees toeneem.” En hy waarsku juis oor die bangheid wat jou nie gaan toelaat om op die mallemeule van die liefde te klim nie.
Daarteenoor, is die ritme van ’n verliefde hart konstant en vol passie, met ’n gevoel van euforie wat elke sekonde van die liefde se teenwoordigheid vier.
’n Gebroke hart se ritme is ongelyk en gebroke, met ‘n swaarheid wat die borskas druk en ‘n gesukkel om normaal te klop, soos ’n gebroke orkes wat probeer om ’n lied sonder harmonie te speel.
Dus, dit is die verliefde hart wat die botoon in Ritme van my hart voer.
Ronald het eers op hoërskool in die skoolkoor begin sing en het op vyftienjarige ouderdom sy eerste enkelsnit opgeneem. “Ek het tot in matriek sanglesse geneem, maar na skool het my paaie my nie dadelik na die verhoog geneem nie,“ sê hy. “Ek het rekenaarwetenskap studeer en het vir ’n paar jaar op my beroep gefokus.’’
Tydens sy studentjare het hy gereeld op Kemptonpark se kuierverhoë opgetree. Hy het ook later musieknaam by privaatfunksies gemaak, maar soos hy sê: “Die veeleisende beroepslewe eis soms sy tol en ’n mens kan nie altyd jou drome uitleef nie.”
Ronald het so ’n paar maande gelede besluit dat die verhoog en die opname-ateljee roep en hy het drie liedjies geskryf. “Dit is die tweede liedjie in die liefdesoeuvre wat nou uitgereik word. Die derde liedjie is nog ’n groot geheim; julle sal maar moet wag en luister,’’ verklap hy.
Ronald reik ook eersdaags ’n musiekvideo van die snit uit. “Ek glo die snit gaan groot golwe in die Afrikaanse musiekbedryf maak. Die video beeld ook werklike liefde uit en hoe Bang Janne uiteindelik die kans op geluk neem.’’
Werner Beukes het ook die snit opgeneem en tegnies versorg.
Ritme van my hart is soos die doef-doef van ’n hartklop. Sit jou hand op jou eie hart as jy na die snit luister.