Daar is drie dinge wat die bekroonde sanger en musikant Charlie Maier bo die massas laat uittroon: Hy is nooit sonder sy kenmerkende breëbandhoed nie; sy elektriese kitaar altyd snaarstyf teen sy linkerheup; en sy snorretjie (wat afhangende van sy skeerbui) soms hariger op die ken word.
En dan is daar natuurlik ook sy stem wat so soet op die oor soos kameelmelk op die tong val…
Hoewel dié Dubaaiers, en natuurlik ook internasionale besoekers aan dié woestynstad gereeld aan sy stem, musiek en liriek blootgestel word, tref hy nou weer Suid-Afrika se speellyste met sy jongste enkelsnit, Fly again.
Die snit se omslag beeld ’n valk, wat een van Dubai se bekendste voëlspesies is, uit. Die valk sprei sy vlerke en vlieg reëlreg teen die bloedrooi son in.
Die snit beeld die valk en sy vlug as ’n metafoor vir die mens se stryd teen die alewige moed-verloor-se-vlakte uit. Dit vind ook weerklank in die lirieke…”spread my wings and fly again…”
Charlie het die snit self gepen en vertel ook op ’n manier sy storie. Van oppak en om in ’n nuwe land oor te begin.
Charlie het sowat vyf jaar gelede die gunstiger klimaat van Suid-Afrika verruil vir die hitte, son en woestyn van Dubai.
Hoewel sy verlange na Suid-Afrika soms ook in Fly again deurskemer, klink dit asof hy goed aangepas het.
Want:
Hy boer op Dubaise radiostasie se topleefstylprogramme;
Hy is al verskeie kere vereer vir sy bydrae tot die vermaakbedryf in Dubai;
Hy het al ’n hele paar pryse vir sy liedjies en musiek gewen;
Hy toer regoor die Arabiese Verenigde Emirate.
Hy sing nou die meeste tyd in Engels, maar hy het veral in die Afrikaanse musiekkringe bekendheid verwerf vir snitte soos Het jy lekker gekry, Geraamtes in die kas en Weskus se strand.
Charlie het die musiektoneel as tiener betree en het as drommer en hoofsanger saam met verskeie Suid-Afrikaanse groepe opgetree. In 2011 het hy besluit om op ’n solo-loopbaan te fokus. Die besluit het hom na die hoogste toonleer gelei, want twee jaar later het hy The Heat is on-talentkompetisie, wat deur ’n internasionale platemaatskappy aangebied is, gewen.
Sy eerste enkelsnit, One more nigt, is kort daarna uitgereik.
In 2016 het hy sy musiekkragte saam met die van Nandi Coetzee gevoeg en hulle het die duo-groep, Who’s Who, gevorm. Die Time Out Magazine het hulle in 2019 as die beste duo-groep in Abu Dhabi aangewys. Nog ’n veer in hul hoed was toe hulle verlede jaar met ’n Afri-Indie-toekenning vir die beste due-album, Soos Tyd, bekroon is.
Fly again het ’n lekker rock-aanslag en ’n boodskap wat diep tref. Met die snit gaan Charlie weer sy aanhangers op hul voete hê.