Daniel is ’n meesterliriekskrywer en met die snit het hy teruggeval op sy wenresep van vorige snitte

Op die omslag van die die bekroonde country-sanger Daniel Wesley se jongste enkelsnit, Like I love you, hang ’n rooi gebroke hart bo stukkies berg wat sterk herinner aan die landskap in Nashville in Amerika.  

Dié hart en die berge is simbolies van die liefde – wat soms so skerp en hard soos rotswande is, maar ander kere so rooi en warm is soos lewende bloed wat deur die hart vloei.

Daniel is ’n meesterliriekskrywer en met die snit het hy teruggeval op sy wenresep van vorige snitte soos Higher wat steun op kontemporêre country-klanke.

Al is hy ’n boerseun in murg en been – hy sing deesdae ook voor al die groot rugbywedstryde wat in Bloemfontein gespeel word – is sy wortels ook stewig geanker in Nashville – wat ook bekend staan as die hart van country-land.

Daniel was jare gelede lid van die Bloemfonteinse rockgroep K2 waar hy die kitaar gestreel het en ook soms as agtergrondsanger opgetree het. Nadat die groep ontbind het, het Daniel ’n reusesprong gewaag en in Nashville sy talente gaan slyp. Dit was ook nie ’n maklike pad nie, want die country-bedryf kan jou maar ook stukkend kou en uitspoeg.

Tog het hy vasgebyt en bekende name in die internasionale musiekbedryf het hom raak-geluister en gehelp om sy talent te ontgin.

Deur die jare het hy saam aan verskeie liedjies gewerk – liedjies wat ook op radiostasies se trefferparades wêreldwyd geboer het. Maar hy het ook diep in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers geklim.

Kenners beskryf ook sy musiek as ’n “Amerikaanse country binne die Afrika-idioom.”

Like I love you is ook ’n voorbeeld van die hartklop van Afrika binne die moderne country-genre. “Ek skryf maar oor allerdaagse gebeure asook dinge wat ek glo gesê moet word; dinge soos die liefde en dáárdie persoon wat jou hoër kan laat vlieg.”

Die snit vang oomblikke waarin ’n mens tot die besef kom dat dinge, sonder dat jy daaroor gewonder het, binne enkele minute kan verander.  Die toekoms lyk dan sommer wonderlik (’n hart wat opgewonde klop), angswekkend (daardie berg-op-berg-af-oomblikke), onseker. In kort, die liefde maak dat jy die verlede vergeet en net op die toekoms fokus.

Daniel gebruik elemente van storievertel om die boodskap van liefde oor te dra. Merkers wat die storie  van enige mens se lewe verdeel in voor dit, na dit en wat ook volgende gaan gebeur.  

Die eindproduk is ’n lekkerluistersnit wat jou eufories oor die liefde sal laat voel.

Hoewel hy nou ook gereeld in Afrikaans sing – twee enkelsnitte het die afgelope twee jaar uit sy pen verskyn – het hy nie nog nie vergeet om met “How Dee?” te groet nie – en hy beoog om volgende jaar ’n vertoning of twee in Nashville te doen.

Daniel se gevoelvolle stem maak van sy liedjies hartsmusiek. Boonop is sy lirieke ook rou, emosioneel en sterk liriekgedrewe.  

Die snit is verwerk en vervaardig deur Darryl de Lange.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *