Die Pretoriase sangeres Marietjie du Plessis is die maand terug op die radiospeellyste met ’n snit, As jy huil.

Die Pretoriase sangeres Marietjie du Plessis is die maand terug op die radiospeellyste met ’n snit, As jy huil, waarin trane as metafoor vir onvoorwaardelike liefde ingespan word.

Die snit is op haar derde vollengte album, Drome van my hart, wat nou ook op alle stroomdienste beskikbaar is en afgelaai kan word.

As jy huil is die vierde snit op Marietjie se album en een van die versreëls verwoord ook die tema van die album “…ek is altyd daar om jou vas te hou…”

Die snit, wat uit die gelouterde pen van Rudi Claase verskyn het, handel oor dáárde liefde en ondersteuning van ’n spesiale persoon in jou lewe. Met ander woorde, jy sal altyd daar wees (in die goeie en die slegte tye) vir iemand vir wie jy lief is.

Marietjie het al ’n dekade gelede haar toetrede tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf met ’n gospelalbum,  Ek prys U, gemaak. Die album is geloof vir sy verskeidenheid liedjies wat nie spesifiek kerkgebonde is nie, maar aan alle gelowiges ’n keurspel bied waarby hulle kon aanklank vind.

’n Jaar nadat dié album uitgereik is, het Marietjie ’n dramakursus aangepak. Sy het dit nie soseer gedoen  om ’n rol in een of ander sepie los te slaan nie, maar om te leer hoe om meer gemaklik in haar eie vel, en in haar eie karakter op die verhoog te kan wees.

Net voor die Covid-19 pandemie het sy tot die sekulêre musiekmark toegetree met die album, Onthou jy nog, waarin sy diep in die verlede gedelf het; goue ou treffers afgestof en  verwerk is tot iets wat werklik uniek was.

“Sowat twee jaar gelede het ek weer liedjies bymekaar gemaak en begin opneem,” vertel sy.

Vyf van die dertien snitte op die album Drome van my hart is oorspronklik. Van die ander snitte sluit  Grassade in die wind, Sonvanger en Sewe Oseane in. Op die album is daar ook ’n paar Engelse snitte soos From this moment en The Story.

 “Ek het die liedjies gekies omdat dit almal hartsliedjies is. Met dié album wil ek my liefde vir musiek, my hart en my drome met die luisteraars deel.”

Dit is veral die snit, As jy huil, wat haar na aan die hart lê. “Die verhaal agter die liedjie is net so mooi soos die liedjie self, ’’ vertel Marietjie. “Ek het nog altyd gewens dat Rudi vir my ’n liedjie sou skryf. Ek het vir hom ’n paar van my liedjies gestuur sodat hy na my stem kon luister. Ek het daarna ’n paar keer by sy huis gaan kuier en oor koffie en melktert het ons die liedjie beplan en bespreek.”  

Die resultaat was As jy huil – ’n snit wat pasknapperfek vir Marietjie se stem is en sy sing dit ook met oorgawe. Dit is ’n snit wat sy met gemak interpreteer en haar eie gemaak het.

 Marietjie het drie volwasse kinders en tussen ma- en vrouwees het sy nooit die tyd gehad om haar drome uit te leef nie. Sy was kindsbeen af al met musiek- en toneeldinge besig, maar het dit nooit as ’n loopbaan oorweeg nie.

Sy het eers in laat vyftigs besluit om uiteindelik vlerke aan haar drome te gee en die afgelope paar jaar is sy ’n gewilde gaskunstenaar by onder meer damesoggende, aftree-oorde, kermisse en privaatfunksies.

Verskeie van haar enkelsnitte het al lugtyd gekry op radiostasies, maar dit is veral As jy huil waarmee sy vir haarself ’n nuwe groep ondersteuners losgesing het.

Marietjie het ’n soet sopraanstem en sy kies ook liedjies wat perfek by haar stem pas.

“Ek is dankbaar vir wat die Here op my pad bring en ek sien uit daarna om nog meer te doen om suksesvol te wees,” sê Marietjie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *