’n Mens is nooit te oud om jou vlerke te span en buite jou gemaksone te beweeg nie.
Chris Spies, ’n sanger en liriekskrywer van George in die Suid-Kaap het op die wyse (en gryse) ouderdom van 68 besluit om sy ingenieurswerk af te skaal en te timmer en te skaaf aan sy musiek wat al sedert sy kinderdae nootblertse op sy gemoed gemaak het.
Hy het reeds drie enkelsnitte, Offers van Afrika, Kgalagadi, en Einde van die Omega, die lig laat sien; snitte wat deur musiekkenners beskryf is as ritmiese poësie waarin die natuur sterk figureer.
Om na Chris se musiek te luister is om papertjies van mengelmoeskardoes sjokolade af te trek; die diepte en lekkerte daarvan is toegedraai in die melodieuse lekker-luister pogings.
Maar met sy jongste enkelsnit, Bruilfof van die jaar, wyk hy van dié resep af en die eindresultaat is kolskoot boere-nostalgie wat nogal sterk herinner aan C.Louis Leipoldt Oom Gert Vertel-gedigte.
Chris vertel dat hy reeds dié lirieke vir die liedjie geskryf het toe hy iewers in sy twintigs was. “Ek het die lirieke uit ’n laai opgedelf en weer daaraan geskaaf. Ek het besef dat die Afrikaanse jeug, in baie opsigte, na die dae van oud terugverlang. Die nuwe generasie dra weer Khaki-klere, ry met bakkies rond en luister na musiek met skeute nostalgie.”
Dié snit handel oor ’n troue wat ten spyte van ’n aanloop van ongelukkige gebeurtenisse, uitgedraai het in ’n onvergeetlike fees. Die snit vang die gees van die tydperk waarin Chris groot geword het goed vas.
Die lirieke het ’n storie verloop; die kerkklokke wat lui, die “ongenooide gaste wat sê hulle is pêlle van die bruidegom” en “die familie en vriende wat van vêrre kom.”
Die snit word kreatief uitgebeeld en dit is amper soos foto-skote van ’n troue. Dit het ’n skoot humor, ’n snapsie nostalgie en ’n skeut siel wat almal sal laat terugverlang na ’n troue op ’n boereplaas waar die hele dorp sommer genooi is vir die okkasie.
Die humor word ook goed vasgevang in die beskrywing van Ouma Dollie (ons almal het so ’n ouma gehad of ken dalk een) wat eintlik die held in die verhaal is omdat sy ’n hengse verleenteid afgeweer het. Ja, Ouma Dollie het gesorg dat die kele nat bly.
“Hierdie lied is so verwerk om enige instelling ’n lekker, goed-voel atmosfeer te gee wat die Afrikaner hartsnare sal roer,’’ sê Chris.
Chris het op die plattelandse dorpie Fochville groot geword. Hy was ’n plaasseun wat van kindsbeen af blootgestel is aan musiek en kuns van liedjies skryf. “My ouers was beide musikaal en my pa was ook een van die stigterslede van die Potchefstroom Universiteit (nou die Universiteit van die Noordwes) se Alabama-studentegeselskap.
Chris glo ook dat Christenskap, die Afrika-kultuur en harde werk eienskappe is wat in hom uitgebeitel is. Eienskappe wat ook sterk in sy lirieke figureer.
Chris se lewenspad het ’n paar wye draaie geneem voordat hy uiteindelik, na sy aftrede, weer aandag aan sy musiek sou kon gee.
Hy het sy loopbaan as elektrisiën begin en homself daarna as elektriese ingenieur bekwaam. Hy het teen die korporatiewe leer geklim en tot en met sy aftrede die pos van elektrotegniese stadsingenieur en uitvoerende direkteur van infrastruktuur in die Merafong-stad aan die Wes-Rand beklee. Na ’n vervroegde aftrede het hy sy eie ingenieursbesigheid begin en was tot onlangs toe nog daarmee besig.
Bruilof van die jaar is die liedjie van ’n meester en Ricus Nel vang die boere-kultuur en nostalgie perfek vas met sy konsertina-klanke, terwyl die vervaardiger, Johan Rautenbach, se kitaarspel en verwerkings die lied die uitrusting gee wat hom tot sy volle reg bring.
Dit is ’n lekkerluister-skoffel snit wat rou en opreg is en by luisteraars van alle ouderdomme sal byval vind.