Die jodelprinses van Suid-Afrika, Karlien Husselman, is terug op radiospeellyste met haar jongste enkelsnit, Platsak.

Die jodelprinses van Suid-Afrika, Karlien Husselman, is terug op radiospeellyste met haar jongste enkelsnit, Platsak, wat ’n pure boerewors-en-pap plesier is om na te luister.

Dit is ‘n komiese pop-rockliedjie wat handel oor  ’n “daknat-maak” – ’n bekende Afrikaanse uitdrukking wat verwys na ’n partytjie wat gewoonlik gehou word om iemand se nuwe blyplek met oorgawe in te wy.

Karlien sug té lekker: “Ja, al is ons platsak het ons nie vergeet hoe om partytjie te hou nie.”

Dié mooi blondekop, wat deesdae in Bronkhorstspruit woon, sê sy het sedert die Covid-inperking gesukkel om haar stem en haar musiek te vind. Sy het wel gedurende die afgelope drie jaar twee enkelsnitte, Skyn en Wingdat, op YouTube vrygestel wat bykans onmiddelik duisende duime gekry het. “Ek het nie regtig die snitte bemark nie. Trouens, ek wou in ’n stadium uit die musiekbedryf tree en ophou sing omdat ek nie geweet het waarheen ek in my lewe op pad is nie,” het sy  openhartig vertel.

Toe kom die woorde van Platsak bykans oornag na haar toe aangedraf – ’n liedjie wat sy gedink het ’n treffer sou wees. “Om platsak te wees is waarmee elke Suid-Afrikaner kan identifiseer. Ek kan ook daarmee identifiseer,” lag sy, “maar ons vergeet soms dat ware vriendskap nie oor geld of materiële dinge gaan nie, maar wat in jou hart aangaan.”

Daarom dra sy ook Platsak aan vriendskap op, want “almal dra gewoonlik by vir ’n dak natmaak al knyp die finansies styf in die beursie. Die snit gaan oor saam wees en om daar te wees vir mekaar.”

In ’n land soos Suid-Afrika waar kospryse hoër as ’n ribbok teen die berge uitklim en die rentekoerse ons paleise soos pandokke laat lyk, is selfspot en ironie in ’n liedjie so belangrik. Ons kan leer om vir onsself te lag en nie toe te laat dat die berge soos Atlas op ons skouers rus nie.  

Platsak is gestroop van enige pop-elektroniese klanke en is kitaar- en dromgedrewe.

Karlien is al langer as twee dekades in die musiekbedryf doenig; sy was een van die land se eerste realiteitsterre wat haar debuut in Idols in 2002 gemaak het.  Hoewel sy onder die top 12-deelnemers geeïndig het, was musiekliefhebbers behoorlik opgekoer met haar diep-donker Chardonnay-alt en “buurdogter-persoonlikheid.”

Haar debuutalbum, Niemand nog soos jy, is in 2004 uitgereik waarvan 25 000 eenhede verkoop is. Drie albums het kort daarna gevolg en op die albums was treffers soos Carolientjie soek ’n  man, Ahoema Shewelana, Paddastoel song, Niemand nog soos jy en Rosie van die Vrystaat.

Dit is  liedjies wat in die geheue van Afrikaanse musiekliefhebbers ingekerf is en volgens Karlien vra mense haar nog gereeld by vertonings om die liedjies te sing.

Plat-op-die aarde en sonder enige fieterjasies is twee karaktereienskappe wat mense gewoonlik gebruik om haar te beskryf.

Dit is ook eienskappe wat van die begin van haar loopbaan in haar musiek verteenwoordig was. Resensente beskryf haar musiek as aards en natuurlik, haar lirieke as meesterlike pogings wat pasknapperfek vir haar stem is.

Sy kan met gemak tussen enige genre beweeg; van pop-rock tot by opera. En ja, as iemand haar vra om te jodel, doen sy dit met oorgawe…

Karlien stel ook saam met die snit ’n musiekvideo bekend wat die voormalige Egoli-ster Isak Davel vervaardig het. “Ek het die storielyn geskryf en die eindresultaat is ongelooflik. Ek sien uit na die luisteraars se terugvoer.

Die sanger en musikant Anton Botha het die snit verwerk en opgeneem.  Haar man van die afgelope paar jaar, Anthony McGee, is die agtergrondstem.

Karlien het al diep note in die musiekbedryf gesing en is nie net een van die verskietende Idols-sterre nie. Al het sy op persoonlike vlak deur ’n paar moeilike en maer jare gegaan, is haar vet jare nou hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *