Jannie du Toit skop die nuwe jaar volspoed af!

*Image Credit : Pierre Vee

Nadat 2023 vir Jannie du Toit groot hoogtepunte opgelewer het met twee nuwe verhoogproduksies, ‘n AITSA!-toekenning en ‘n onvergelykbare jaareind-toer met die immer gewilde produksies IN KERSFEESTYD en BONJOUR MONSIEUR BREL, het 2024 ewe blitsig aan die gang gekom.

Koos du Plessis se sterfdatum is nou, veertig jaar later, gepas herdenk toe Jannie se program DOEP IS NIE DOOD NIE op Sondag 14 Januarie lewendig deur RSG uitgesaai is – uit dieselfde SAUK-ateljees waar Jannie in 1981 sy eerste solo-album ‘N LIEDJIE VIR JOU opgeneem het. Die volgende aand – die presiese datum waarop Koos oorlede is – verlede Maandag, 15 Januarie, is die program in ‘n volgepakte Atterburyteater aangebied. Hierdie keer is ‘n tweede helfte tot die aand bygevoeg waartydens Koos Doep se dogter Karla, Mathys Roets en ander kunstenaars gesels het oor Koos, die meester van die Afrikaanse kleinkuns, en sy liedjies gesing het.

Die twee nuwe produksies in 2023 was die soloprogram OPPIEKITAAR, waarin hy uitsluitlik sy eie liedjies net met sy kitaar sing, en MARGARETASTRAAT, die storie en musiek van die legendariese liedjie-aande in die vroeë tagtigerjare by sy destydse huis in Pretoria. In dié produksie is die briljante pianis, Chanie Jonker, saam met hom op die verhoog en hulle het verlede jaar by Aardklop gedebuteer. Jannie beplan om laat in Maart ‘n toer te onderneem met OPPIEKITAAR, maar Chanie gaan in Oudtshoorn by hom aansluit om MARGARETASTRAAT op 25 en 26 Maart by die KKNK aan te bied.

Intussen was daar ook ‘n heruitsending van DOEP IS NIE DOOD NIE, want Kobus Burger, programbestuurder van RSG skryf: “Selfs mense wat Sondag geluister het, SMEEK ons om dit tog net te herhaal. Julle het die luisteraars DIEP geroer. Ek dink hierdie is ook ’n geskiedkundige moment – om ’n nuwe geslag aan Koos en sy werk bloot te stel.” Hierdie gebeure en Kobus se woorde het Jannie laat besluit om hierdie jaar baie sterk op die Koos Doep-aanbieding te konsentreer, onder andere deurdat dit die produksie sal wees wat hy aan die einde van die jaar op sy gebruiklike jaareind-toer vat – soos oor die afgelope dekade weer saam met die virtuose tjellis Susan Mouton en Chanie op die klawers.

Laaste maar nie die minste nie – wat musiek betref – bied Jannie ’n nuwe program aan oor sy gunsteling-onderwerp, die kleinkuns. Die titel van die program is DIE WOORDE EN DIE WYSIES en hy bied dit aan vir groepe soos leeskringe, skoliere en studente wat ’n besondere belangstelling in die taal en musiek – dus in liedjies het. Hy gesels oor die luisterlied, toonsetting van poësie en oor die verhouding tussen musiek en liriek. Hy sing ook toonsettings van gedigte en liedjies waarvan die tekste na poësie neig in ’n paar tale.

Op ’n totaal ander terrein is 2024 ook vir Jannie ’n besondere jaar: sy Agterplaas B&B Gastehuis in Melville, Johannesburg, vier op 1 April  vanjaar ‘n kwarteeu as toonaangewende rolspeler in die plaaslike gasvryheidsbedryf. Skitterende graderings op internasionale platforms sluit altyd verwysings in na Agterplaas se ontbyte, wat oor die dekades aan besoekers vanoor die wêreld voorgesit word deur Badia Isaacs, ’n geliefde figuur in dié omgewing. Jannie het sy liedjie KOFFIEKAFEETJIE opgedra aan Badia en aan sy vriend Lochner de Kock wat ’n volle dertig jaar saam met hom in Melville koffie gedrink het voordat hy onlangs Kaap toe verhuis het.

Vir alle navrae oor Jannie se optredes – besprekings, kaartjieverkope ens – skakel Jopie Koen by 072-460-5568 en/of stuur eposse beide aan 

jopie@pierneefteater.co.za en jannie@agterplaas.co.za

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/JannieduToitBlad

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCoMAu3dxQnKK-CYJhDR7iFg

Webwerf: www.janniedutoit.com

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *