Kyk na die Here is ’n liedjie wat spesifiek fokus op ’n boodskap aan laerskoolkinders, maar tog met ’n dieper  boodskap vir almal wat daarna luister.

Engo Vrystaat het hande gevat met twee gerekende plaaslike kunstenaars, Jacobus Silwer en Cezanne Yzelle, wat ’n unieke liedjie vir Engo geskryf, getoonset en uitgevoer het.

Kyk na die Here is ’n liedjie wat spesifiek fokus op ’n boodskap aan laerskoolkinders, maar tog met ’n dieper  boodskap vir almal wat daarna luister. Temas wat in die lirieke voorkom sluit onder andere die lag en seer van die lewe, en dan ook die hoop en genade dat daar wel ’n plan is en dat alles oukei gaan wees in.

Die positiewe boodskap en aansteeklike, ritmiese toonsetting, laat die wysie by jou vassteek; jou voete begin spontaan saam dans en die woorde vloei uit jou uit (of jy nou ’n Kontrak-wenner is aldan nie).

Dié liedjie was De Wet Claassens, die hoof-uitvoerende beampte van Engo Vrystaat, se breinkind.  “Elke jaar in Oktober word Omgie-maand gevier; ’n maand waarin daar spesifiek gefokus word om hoop, binne die gemeenskappe waarin ons werk, te bring. Die fokus val veral op kinders en ook skole,want dit is wáár die groot seer begin.

“Ons wou enersyds ons boodskap op ’n prettige en kreatiewe manier oordra, met woorde wat Engo se hart en die wese van omgee weerspieël, maar andersyds ook die boodskap van hoop duidelik oordra. Engo se leuse is immers Ewige Hoop. Dit is wat ons met die liedjie beoog,” sê Claassens.

Kyk na die Here is vir die eerste keer op 27 Oktober vanjaar  op Engo se Omgie-skoledag gesing. Kinders, volwassenes en bejaardes het heerlik saam gesing en gedans op die passies wat vir die liedjie uitgewerk is.

Die plan is om ook later d ie liedjie in Sesotho te vertaal en dan na verskillende skole uit te  rol, in ‘n poging om hoop na alle skole te bring.

Kyk na die Here  is reeds op verskeie musiekplatform, soos Spotify en iTunes  beskikbaar, Die musiekvideo word middel Desember bekendgestel.  

Meer oor Engo

Engo is ’n nie-winsgewende en nie-regeringswelsynsorganisasie wat in die Vrystaat werksaam is.   Engo het verlede jaar sy 120ste bestaansjaar gevier.  Engo is die grootste liefdadigheidsorganisasie van sy soort in die Vrystaat en die tweede grootste in Suid-Afrika.

Engo doen ongelooflike werk binne gemeenskappe oor alle rasse, kulture en ouderdomme heen.

  • Byna 200 000 lewens is deur Engo aangeraak gedurende 2022 / 2023 finansiële jaar
  • Engo bestaan ​​uit ses verskillende subprogramme
    • 33 kinder- en jeugsorgsentrums wat tussen 700 en 800 kinders versorg wat deur die kinderhof uit hul omstandighede verwyder is. ’n Bykomende 39 313 kinders in gemeenskappe het ondersteuning ontvang deur kos- en klereskenkings.
    • 10 Gesinsorgkantore wat met behoeftige gesinne en kinders in die Vrystaat werk, wat ongeveer 47 470 mense per jaar bereik.
    • 2 Gestremdesorgsentrums (Viljoenskroon en Bethlehem), wat daagliks 30 gestremde persone versorg.
    • 20 Bejaardesorgsentrums, insluitend onafhanklike behuisingskemas, verswaktesorg en twee demensie-eenhede, wat na ongeveer 2852 bejaardes in die Vrystaat omsien.
    • Hospitaaldiens doen bedieningswerk in hospitale in Bloemfontein en brei ook hul dienste met aanlyn ondersteuning uit na 23 770 mense en 288 gesinne.
    • Aannemingsdienste, wat die aannemingsproses vergemaklik, om aanneembare kinders in die permanente sorg van geskikte aanneemouers te plaas. Gedurende die afgelope jaar is 37 plaaslike en 2 internasionale aannemings gefinaliseer. Herkomsnavrae van 47 individue is behartig.

Vir meer inligting oor Engo Vrystaat, besoek www.engo.co.za of stuur ’n epos na info@engo.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *