Só vertel die mooi donkerkop sangeres en sosiale media smaakmaker van Pretoria, Karin Bekker, oor haar jongste enkelsnit, Net Reg, wat pas op radiostasies landswyd uitgereik is.
Almal is altyd opsoek na die perfekte lewensmaat, maar dáárdie perfekte persoon moet perfek wees vir jou.
“As kind het my ma baie kere genoem dat die regte man net reg gaan voel. Die regte verhouding gaan nie soos werk voel nie; die liefde gaan nie soos moeite voel nie. As dit soos werk voel, is dit nie die regte persoon nie,” vertel Karin.
En dit is ook waarom Karin besluit het om ’n liedjie te skryf wat nie oor ’n gebroke hart, verydelde liefde of weggegooide drome gaan nie, maar oor die perfekte liefde wat iewers op jou lewenspad vir jou wag. “Ek het altyd geglo dat die liefde genoeg sou wees. Ek het vir jare gedroom oor hom; die perfekte man. Nog jare het verby gegaan en die droom het los gedagtes geword todat ek die persoon ontmoet het wat reg was vir my. Nie perfek nie, net reg.”
Sedert haar eerste note tydens geboorte in die hospitaal weergalm het, is Karin ‘n gebore uitvoerende kunstenaar. Sy het drama op skool geneem en terwyl sy verskillende karakters op die verhoog vertolk het, het sy ook gesing. Sy was onder meer ’n lid van die Jakaranda-kinderkoor, en het ook aan verskeie sangkompetisies deelgeneem – sy het die meeste daarvan gewen.
En terwyl haar stem haar tot die hoogste goue hoogtes gevoer het, het mense na haar begin luister. Sy het die verhoog al met onder andere Lloyd Cele, Elvis Blue, Pieter Koen, The Parlotons gedeel en vele meer.
Sy het reeds in graad 10 haar debuut gospel album, Vader, Seun en Gees uitgereik en dit is uitstekend deur plaaslike gospelradiostasies ontvang.
Drie jaar later het sy haar eerste sekulêre vollengte album, Sonder jou, uitgereik.
So tussen deur die gesingery het sy ook by verskeie teaters – agter die gordyne en voor die gordyne – gewerk. Sy het ook ’n BA graad in Kommunikasiekunde verwerf wat handig in haar loopbaan te pas kom.
Karin se stem resoneer so tussen F3 en hoër A-note(A5) en sy kan ook in enige genre sing; sy het selfs al haar debuut in die opera wereld gemaak.
Net Reg beweeg so tussen borrelgom- en elektropop. Dit is veral die vermenging van “neon-klanke” en meer tradisonele pop wat die snit uiters geslaagd maak. Dit ontplof soos ’n soet suiglekkertjie in jou mond, beweeg na jou maag waar dit in jou tone gaan lê, en dit net nie kan ophou wikkel nie.
Karin glo in haarself en is vasberade om ’n loopbaan uit haar musiek te maak.
Die snit herroep die gevoel van vlinders op jou maag, van litte tone en die sand en musiek wat amper ’n psigedeliese uitwerking op die luisteraar kan hê.
Met dié snit bewys Karin dat sy haar musiekskoene goed kan volstaan. Die snit is opreg en vars en sal byval vind by alle popmusiekaanhangers.