Amoré, in haar jongste enkelsnit, Man vat, ’n eg Suid-Afrikaanse snit wat soos die smaak van ’n boereworsrol op ’n Saterdagmiddag op jou tong lê

Om ’n “man te vat” is in sekere kringe ’n epitoom van ware geluk, maar “Boeta, dié girl gaan ook nou nie sommer enige man vat nie…’’

Só pop die Suid-Kaapse sangeres, Amoré, in haar jongste enkelsnit, Man vat, ’n eg Suid-Afrikaanse snit wat soos die smaak van ’n boereworsrol op ’n Saterdagmiddag op jou tong lê.

Amoré het vroeër vanjaar die Suid-Afrikaanse musiekmark letterlik binnegebons met haar vastrap-hakke-in-die-stof poptreffer, Dis naweek.

Dié snit het musiekkritici se mond so effens laat oop hang, want dit herinner aan die elektroniese popmusiek van die tagtigerjare, maar terselfdertyd is die klanke ook eg Suid-Afrikaans.

Met haar tweede snit, Man vat, wyk so ook nie af van haar wenresep nie; die liedjie is pure pop; flitsende neon-ligte, suigstokkie-in-die-mond. ’n Snit wat ook die tagtigerjare se klank en ritme as basis gebruik.

Die lirieke is egter lig en lekker; swaarder onderwerpe skuil onder eina-mini’s en polfynhakke en word sagkens by die deur uitgevee.

Tog is die snit nie net spookasem en borrelgom nie; in vele opsigte raak-raak die poplirieke aan vroulike emansipasie, asook die vrou se rol in ’n verhouding.

“Die snit,” sê Amoré, vertel die storie van vrouwees, verhoudings, trou en hoe die wêreld vrouwees uitbeeld.”

Die snit vorm dus ook ’n paradoks teenoor die tradisionele rol wat die vrou moet speel en haar nuwe rol in ’n postfeministiese Suid-Afrika. Dit beeld ook die stereotipering van vrouwees op sosiale media uit. “Dit snit handel dus ook oor die patriargale stelsel waar die vrou net gereduseer word tot ’n voorwerp in die kombuis.”

Sy sing: …’’Sy is ’n ystervrou, sy is in beheer, sy hou van 4×4, skoffel in die skuur.”

“Die versreël som ook my persoonlikheid goed op”, vertel sy. “Ek is ’n avontuurlustige persoon en ek sal dinge aanpak en doen wat gewoonlik net deel is van ’n ’man’ se wêreld.”

Soos Naweek, is Man vat is ook deur die musiek van die tagtigerjare geïnspireer, maar dit het ’n varser aanslag, want ’n vrou vertolk ook die hoofrol in die klein storietjie. “ Om ’n  vrou te wees is soveel meer as haar uiterlike voorkoms, haar gewig of wie sy kies om haar lewenspad mee te stap.

“Die storie is dus ook ’n bietjie ironies; die wêreld sien haar steeds as ’n skoupop wat net mooi aan ’n man se arm moet lyk, maar haar oorwinning lê eintlik in haar sagmoedigheid, haar werksetiek en haar spontaniteit wanneer sy in die kombuis dans terwyl sy vir haar gesin aandete voorsit.”

Die snit is ook ’n speelse vergelyking dat die vrou met die man oor die wenstreep hardloop…maar dié vrou soek nie ’n spierpomper of ’n rugbyspeler nie, net ’n doodgewone man wat kan bloed sweet en met sy hande werk.

Amoré is ’n milleniër wat  in die negentigerjare gebôre is en groot geword het. Daarom verstaan sy ook presies in watter genre sy moet sing om die nuwe generasie musiekliefhebbers se voete aan die gang te hou.

Sy vertel dat sy al op sesjarige ouderdom begin sing het en het sommer altyd geweet dat haar pad na die vermaakbedryf vir haar beplan en uitgelê is. “Ek is tydens my grootwordjare aan verskeie musiekgenres blootgestel. Ek is mal oor die tagtigerjare se musiek en ek dink dit is ook die tipe musiek waarmee ek die  gehoor op hul voete hou.”

Sy het ook die jaar haar hand aan ’n gedig gewaag en die eindproduk is in ’n bundel vir jong volwassenes, Tyd is ’n bl*ksem gepubliseer.

Sy het al op verhoë regoor die land opgetree en het ook al die verhoog met sangers soos Ryno Velvet, Juan Boucher en Byron Minnie gedeel.

Haar musiek word grootliks geïnspireer deur Celine Dion en Shania Twain. “Hulle het my nie net aan pop- en countrymusiek bekendgestel nie, maar ook aan lirieke wat stories vertel. Dit is vir my ’n baie belangrike aspek van liedjies; dit moet ’n storie element bevat. Ek glo ook dat liedjies die menslike natuur moet kan beskryf.’’

Die snit herroep die gevoel van vlinders in jou maag, van litte losmaak op die dansvloer en musiek wat kliphard in jou ore speel.

Met dié snit bewys Amoré dat sy haar musiekskoene goed kan volstaan. Die snit is opreg en vars en sal byval by alle pop- en dansmusiekliefhebbers vind.

Die snit is deur Darryl de Lange van Musicology Recording Studio opgeneem, verwerk en vervaardig.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *