“Plak dit toe met woorde” is eerlik en opreg.

Die Pretoriase sanger, liriekskrywer en musikant, Doane Smith, maak dié maand sy amptelike toetrede tot radiostasies se speellyste met sy rockgedrewe enkelsnit Plak dit toe met woorde.

Doane het die inspirasie vir die snit uit een van sy dogter se skooltake geput. “Die taak het ’n onderbaadjie behels wat toe was met woorde en paragrawe. Nadat sy die hele taak voltooi het, het sy egter voortgegaan om meer uit te knip en aan te plak. Ek het haar gevra waarom sy voortgaan om woorde uit te knip en op die baadjie te plak, aangesien die taak reeds voltooi is.’’

 “Sy was nie tevrede met die  prentjies op die hartgedeelte van die onderbaadjie nie en het volgehou dat alles eenvormig moet wees. Haar woorde, ‘ek plak dit toe met woorde, Pappa,‘ het die tema van die snit geword,“ vertel Doane.

Die snit handel dus oor die mens se neiging om sy ware gevoelens en gedagtes te verberg. Wanneer ons mense groet of nuwe mense ontmoet, sê ons dikwels dinge soos ‘Hallo, goed en met jou? of “Alles gaan goed en alles gaan voorspoedig,” selfs wanneer dit nie noodwendig die waarheid is nie.’’

“Ek het besef dat mense dikwels agter hierdie oppervlakkige taaluitruiling hulle  werklike emosies en ervarings wegsteek. Dit het my laat wonder oor die ware gevoelens wat mense in hul harte dra, en hoe ons hierdie emosies met woorde “bedek.”

Plak dit toe met woorde gee ’n  stem aan hierdie gedagte deur te beskryf hoe ons ’n gewoonte het om ons ware self agter maskers in oppervlakkige geselskap te versteek. Alhoewel ons almal verkondig dat alles goed gaan, is dit nie altyd die werklike stand van sake nie.  

Daarom  dien die snit ook as ’n  herinnering dat ons menslik is en dat ons almal se komplekse emosies en ervarings van mekaar verskil.

Doane is ’n gebore Pretorianer en het reeds as vyftienjarige met sy musikale reis begin.

Hy het sy eerste kitaar met geld wat hy uit dinge soos grassny verdien het gekoop, en het sy kitaarvaardighede verfyn deur na radiomusiek te luister.

Met geduld en baie oefening het hy sy liedjies tot perfektheid geslyp.

“Ek wou nooit ’n professionele musikant word nie, dit sou seker maar altyd net ’n stokperdjie gebly het, maar omstandighede het my aanhoudend in ’n musikale rigting gestuur,” sê hy.

Doane is ’n uitsonderlike musikant en uitvoerende kunstenaar wat daarin slaag om gehore van alle soorte te bekoor.

Andersins beskik  hy ook die vermoë om musiek te vertolk , van ou gunstelinge tot die jongste treffers.

Sy musiek sluit ’n uiteenlopende repertoire van musiekstyle, insluitend rock, pop, country, liefdesliedjies, dans, medleys en hedendaagse treffers in.

Hy het al by plekke soos Padstal, Spoorloos, Jan se skuld, Stoetbul, Thirsty Fox, Lulu’s Piet Retief Ruby Club, Pongola Bowling Club, Steenbok Pan, en verskeie ander gewilde plekke, insluitende markte, feeste en soortgelyke geleenthede opgetree.

Plak dit toe met woorde is eerlik en opreg en met dié snit bewys Doane dat hy nie net ’n goeie stem het nie, maar ook met woorde kan toor.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *