GEBRUIK PROFILERING OM JOU SPAN NA NUWE HOOGTES TE LEI

Image Supplied

Vir ’n besigheid om regtig suksesvol te wees, moet die personeel funksioneel en effektief as ’n span kan saamwerk. Dit kan egter nogal uitdagend wees om elkeen se sterkpunte te identifiseer en dit is waar profilering ’n groot rol speel.

Die 21ste eeu is ’n tydperk waarin dit belangrik is om die waarheid te weet en akkurate en betroubare feite te hê oor enigiemand waarmee jy besigheid doen, hetsy ’n personeellid of kliënt. Dis ook belangrik om bewus te wees van diegene wat jy bestuur se sterk- en swakpunte.

Ontsluit jou span se effektiwiteit met vooruitstrewende korporatiewe opleiding, wat gesigprofilering integreer om verborge potensiaal te ontdek en prestasie te verbeter.

Profilering help bestuur en groepleiers om te verstaan hoe hulle mekaar se sterkpunte en vaardighede kan aanwend om die beste resultate te verkry en sterk, produktiewe spanne te vorm wat mekaar se rol in die besigheid respekteer. Verder bevorder dit ook eerlikheid en effektiwiteit binne die werkplek.  

Wat is gesigprofilering?

Volgens dr. Lizelle Grobler, ’n gesertifiseerde profileerder, forensiese psigofisioloog met ’n PhD in metafisiese wetenskap en ’n meestersgraad in neuro-linguistiese programmering, word jou persoonlikheid weerspieël in jou gesig. 

Maar dit gaan oor meer as net jou gesigsuitdrukkings. Behoorlike gesigsprofilering verklap waardevolle inligting oor wie iemand is, wat hulle behoeftes is.

Deur hierdie tegniek op potensiële kliënte toe te pas kan jou bemarkings- en verkoopspan leer om hulle binne ’n paar minute te lees en presies te weet wat hulle wil hê, en hoe om hulle te hanteer. Dit kan dus lede van jou span help om ’n ingeligte besluit te neem om suksesvolle verkope te verseker.

Die linker- en regterkant van ’n persoon se gesig, weerspieël elemente van sy private (links) en openbare (regs) persoonlikheid.

Die linkerkant onthul meer intieme en persoonlike karaktereienskappe; en die regterkant verklap wie hy by die werk en in sosiale omstandighede is.

Dit gaan oor vorms, lyne, groottes, hoeke en posisie – hoeveel van die ooglid blootgestel is of die digtheid van hul wenkbroue. Van die voorkop tot die ken, bied die gesig ’n holistiese interpretasie van persoonlikheid en gedrag.

Om hierdie beginsel te demonstreer, het Lizelle onlangs die bekende akteur, Tom Cruise, se gesig ontleed (sien foto aangeheg).

Tom se skuinsvoorkop (links bo) verklap byvoorbeeld dat hy iemand is wat feite en prosesse maklik onthou en sy kennis en ervaring gebruik om probleme vinnig en doeltreffend op te los.

Sy reguit neus (links onder) dui aan dat hy ’n logiese en praktiese langtermyn strategiese beplanner is, wat altyd op soek is na slim en effektiewe maniere om take te verrig.

Digte reguit wenkbroue (regs bo), soos syne, is ’n sigbare teken van intelligensie en dat feite vir hom belangrik is. Dit toon ook dat hy baie logies is, uitdagings geniet en heel moontlik ongeduldig is met diegene wat langer vat om probleme op te los as hy.

Laastens getuig sy sterk kakebeen (regs onder) van sy sterk, dapper en ferm karakter en is hy heel moontlik iemand wat soms as hardkoppig beskou sal word.

Deur slegs hierdie basiese ontleding toe te pas, kry jy reeds ’n baie duidelike prentjie van wie ’n persoon is en hoe jy hom kan aanwend of moet benader.

“Om werknemers se sterkpunte en beperkinge te identifiseer, hul kommunikasiestyl te verstaan, hulle waarde in die maatskappy te beklemtoon en te weet wat hulle motiveer, kan van onskatbare waarde wees vir moderne besighede,” sê Lizelle. 

Hierdie merkwaardige vrou met haar unieke stel vaardighede help maatskappye om die beste uit hul personeel te kry. Sy leer menslikehulpbronspanne om profilering te gebruik om werknemers te laat presteer en het reeds ’n pad gestap met heelwat groot korporatiewe besighede regoor die land, waaronder Sabi Sands, die AndBeyond Group, Phoenix Security  and Sefateng Chrome Mine, om maar net ’n paar te noem.

Buiten daarvoor om korporatiewe spanne te help ontwikkel, is sy ook passievol daaroor om vroue te help. As ’n gekwalifiseerde traumaberader en lewensafrigter, is sy gereeld betrokke by verskillende projekte wat spesifiek op die skoner geslag gemik is.

Sy sê: “Ek wil vroue help om hulle uniekheid te omhels en dit tot hulle voordeel te gebruik. Nie net wil ek hulle help om hulle volle potensiaal te bereik nie, maar ook om hul grense te verskuif en hulle drome te verwesenlik.”

Verder is sy is ook besig om aan verskeie opwindende projekte te werk, insluitend Enchanting Warrior-kampe vir vroue, en ’n unieke gespesialiseerde opleidingsprogram. 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook – https://www.facebook.com/drlizellegrobler

Instagram – https://www.instagram.com/drlizelle.grobler/

LinkedIn – https://www.linkedin.com/in/dr-lizelle-grobler-5a4a2563/?originalSubdomain=za 

Webwerf – www.iqinisoforensic.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *