Die plaasrockgroep Zondagkraal is na drie maande terug op radiospeellyste met nog ’n enkelsnit, Brandweerwag.

Die plaasrockgroep Zondagkraal is na drie maande terug op radiospeellyste met nog ’n enkelsnit, Brandweerwag, wat die verhaal vertel van dapper manne en vroue wat voor plantasies waghou en mens en dier teen die verwoestende uitwerking van ’n bosbrand beskerm.

Hoewel die  brandweerwag in oorsese lande ’n voltydse werk is, noem ons hulle hier in Suid-Afrika die vuurslaners; plaaswerkers, bure, kinders en bejaardes wat onmiddellik reageer as daar ’n brand in die plattelandse of bosryke omgewings uitbreek.

“Ons het die wêrel se respek vir die vuurslaners of die brandweerwag,’’ vertel Roelf Roelf Fritz, die groep se segsman en een van die woordtowenaars.  “Ek dink soms nie mense weet wat die werk van die brandweerwag regtig behels nie. Hulle staan wagtend op bosbrande wat ’n vernietigende effek op mens en dier kan hê. Indien daar wel ’n bosbrand uitbreek, is dit hulle werk om dit te beheer en te bestry.”

Roelf en sy mede-rockers, Hannes Eloff en Christaan van Biljon is almal boere in Komatipoort-omgewing in die Mpumlanaga-provinsie. Hulle weet watter skade veld- en bosbrande kan veroorsaak. Hulle weet hoe dit voel as die vuur se rook ingeasem word en die longe amper aan die brand slaan.

Tóg vertel die snit nie net die storie van die brandweerwag se daaglikse stryd nie. Dit word enersyds ’n sinonieme van die liefde wat dreig om ’n mens te verteer; en andersins ’n noodkreet van iemand wat dringend op soek is na sy of haar eie brandwag om die seer, wat soms erger as ’n vuur kan brand, te bestry.

Die trefkrag van die snit lê in die eerlikheid, treffende klank, opwindende en progressiewe orkestrasie (ligte rock, en ’n skeut melancholies folk wat in kontemporêre styl verpak word) en suiwer vokale vertolkings.

Zondagkraal het vroeër vanjaar hulle toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf met die snit Blom gemaak. Die snit is beskryf as een van die beste rocksnitte wat dié jaar uitgereik is.

Net soos Blom kan die luisteraar (sonder om doelbewus na simboliese Bybelse betekenisse te soek)  genade en liefde in Brandweerwag se lirieke vind.  “Ons het eers ’n paar gospelsnitte geskryf, maar ek en Hannes het saam begin skryf en skielik het ons geskrywery in ’n rigting begin beweeg wat ons glad nie verwag het nie,” vertel Roelf. 

Hannes, Roelf en Christaan het op die naam Zondagkraal besluit, want eerstens beteken die woord “dag van rus” en tweedens simboliseer dit hulle diep geloof in die Here. Kraal beteken weer “plaas” – ’n plek waar hulle bly en werk; lag en huil.

Die drie musiek-indoenas is almal plaasmense en hulle grootste droom is om eendag hulle eie grond te besit. Die naam sal dan ook  Zondagkraal wees.

Al drie die manne is baie bekend in hulle omgewing. Hannes is die plaaslike laerskool se rugby-afrigter en is ook betrokke by die stoeiklub, terwyl Chris al vir ’n paar bekende sangers liedjies geskryf het. Hulle almal is ook betrokke by die droogtehulpfonds vir boere.

Musiekresensente beskryf hulle eiesoortige musiek as plaasrock, ’n musiekgenre wat stories vertel in ’n folk-rockerige styl.

Brandweerwag is sterk liriekgedrewe en Hannes se diep tenoorstem is soos ’n sterk stroom water wat die vuur in enigiemand kan blus.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *