Afrika vrou is baie meer as net ’n liedjie wat aan vroue opgedra word

Vir die Pretoriaanse sangeres René lê die krag van vroue in mekaar.

Dit is ook die boodskap wat sy dié vrouemaand met haar nuutste enkelsnit, Afrika vrou,wil oordra; dat vroue nie grense het nie en tot enigiets in staat is.

Die snit, wat op haar splinternuwe album, Vrede na die chaos,verskyn is ’n smorgasbord van keltiese klanke en die gedonder van Afrika dromme, en as jy fyn luister sal jy die sagte sweep van die wind deur die bome se blare hoor, die gemurmer van water, die gelag van ’n vrou.

Afrika vrou is baie meer as net ’n liedjie wat aan vroue opgedra word; dit is  ’n metafoor van vroue se smart en pyn, maar ook van vasberadenheid om teen die partiargale stelsel, waarin baie vroue nog vasgevang is, te baklei.

Tog is dit nie ’n swaar feministiese liedjie nie, maar eerder iets wat die vryheid van die vrou vier. 

“Dit gaan oor die band en krag tussen vroue wat nie net landsgrense oorsteek nie, maar ook sosiale- en kulturele grense,” vertel René.

Sy en ‘n vriendin, Esther Slabbert, het die snit aanvanklik as temalied vir ’n dokumentêre program op die Afrikaanse leefstylkanaal, VIA op DSTV, geskryf en opgeneem. Dié reeks sou oor vroulike natuurbewaarders in Afrika handel.  “Die uitbreek van die Covid-19 pandemie en die gepaardgaande grendeltydperk het die reeks laat sneuwel. Die reaksie op die liedjie was egter so goed gewees dat ek besluit het om die snit ’n bietjie langer te maak en dit op die album in te sluit,” sê René.  

René, wat bykans drie dekades gelede tot die musiekbedryf toegetree het, het die musiek van die liedjie gekomponeer  en dit spreek nie net van kreatiewe vryheid nie, maar ook van fynproemusiek wat vir die geoefende oor die ambrose van die Griekse gode sal wees.

René is op Klerksdorp gebore, maar het in Bloemfontein groot geword. Sy het verpleegkunde aan die Universiteit van Bloemfontein studeer, en dit is ook dáár waar haar klokhelder sopraanstem gehore fyner laat luister het.

Sy het in haar eerste jaar ’n kampustalentkompetisie gewen en kort voor lank het groot musiekname soos Rina Hugo, Jannie du Toit en Anneli van Rooyen haar genooi om voorvertonings vir hulle te doen.  “Ek het in daardie stadium besluit om eerder op my beroep as verpleegkundige te fokus, dus het musiek net my stokperdjie geword.”

Maar die publiek kon in daardie stadium nie genoeg van haar stem kry nie, en in 1996 het sy haar eerste vollengte album Kampus Lady,uitgereik.  Haar snit Marionettespel,het ook oornag ’n glipwonder geword en dit is herhaaldelik op radiostasies landwyd gespeel.

Sewe jaar later het sy nog ’n album, Die verkeerde kant van reg, uitgereik wat gloeiende resensies ontvang het. Die musiekresensent CJ de Swart het haar musiek beskryf as “iets wat sy met ’n drywende siel vertolk en dat sy emosies met haar sonderlinge aanslag deurmekaar roer.”

Nou is René terug; haar stem is voller, soeter, gelouter deur die jare wat verby gegly het, maar haar lirieke is nog net so diep en ryk.Afrika vrou is ’n inspirerende liedjie wat in die musiekargiewe gebêre gaan word. ’n Snit waarna vroue, wat na ons gaan kom, nog gaan luister.

One thought on “Afrika vrou is baie meer as net ’n liedjie wat aan vroue opgedra word

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *