Die Suid-Kaapse sangeres Marike se tweede enkelsnit, Hier by jou, is alles behalwe ’n tradisionele liefdeslied.

Die Suid-Kaapse sangeres Marike se tweede enkelsnit, Hier by jou, is alles behalwe ’n tradisionele liefdeslied – dit is ’n ode aan Suid-Afrika. ’n Snit wat die kontraste; die skoonheid van die land teenoor die uitdagings wat ons elke dag in die gesig staar sensitief uitwys, maar tog ook ’n positiewe gevoel by die luisteraar laat.

“Ek voel regtig tuis hier. Dié land is steeds my hartsplek, die tuiste waar ek net myself kan wees, waar ek behoort,” vertel Marike wat ook ’n selferkende stralejakker is.  Sy het, as jong volwassene, wyd gereis en die mense, die musiek en die kulture van lande waaronder Portugal, Engeland en Duitsland leer ken.

Dié mezzo-sopraan beskryf die snit as ’n liefdeslied van verlange en die onfeilbare hoop dat drome steeds en wel bewaarheid kan word- amper soos jou sielsgenoot waar dinge nie altyd glad verloop nie, maar  ’n mens altyd kans sien om weer te probeer, om ’n beter toekoms te bou.

Hier by jou is vir haar baie spesiaal, want sy het dit aanvanklik geskryf tydens ’n baie stormagtige tyd in haar lewe. “As ek nou terugkyk besef ek hoe baie ek die afgelope dekade gegroei het. Ek moes ook deur dáárdie tye gegaan het. Dit is bevrydend om idees wat aanvanklik heel nostalgies was in iets opgeruimds te kan verwerk en uit te leef.”

Nadat sy van haar reise teruggekeer het, het haar diploma in Toerisme en graad in Ekonomie  haar op vreemde, interessante paaie geneem.  Sy het onder meer by ’n plaaslike koerant, ’n gastehuis, ‘n prokureur en binnehuisversierings-winkels gewerk,  voordat sy vyf jaar gelede uiteindelik besluit het om van musiek ’n loopbaan te maak.

“Ek was vir ’n vier jaar ’n mede-lofpryssanger by ons kerk. Ek en ‘n goeie vriend, wat ‘n uitstekende kitaarspeler is, het besluit om ons stemme en instrumente aan optredes te waag en het ek saam met hom by restaurante en funksies oral in die Suid-Kaap opgetree, totdat Covid my ook gedwing het om ‘n solo-loopbaan te begin.”

Hoewel Marike nie ’ n onbekende stem in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf is nie, beskou sy haarself as ’n “sangeres wat eers later in haar musiekloopbaan begin blom het.”

Sy het wel op laer- en hoërskool koor gesing en het ook in ’n musikale gesin groot geword; haar ma, Leonie de Vos, was ‘n talentvolle operasangeres.  “Ek het letterlik in operahuise groot geword en het self ook deurentyd gesing, maar ek het myself nooit werklik ernstig opgeneem nie- ek dink ook nie ek het genoeg selfvertroue gehad om te doen wat ek nou doen nie. Ek wil graag ander  “late-bloomers“ inspireer en aanmoedig om hul drome na te jaag. Dit is nooit té laat om te doen wat jy graag wil doen nie. Ons leef immers almal net een keer,’’ vertel sy. 

Sy het haar eerste enkelsnit, Hemelblou, in Julie 2022 uitgereik en gehore het dit baie goed ontvang.  Die snit, wat ook uit haar eie pen verskyn het, fokus ook op temas van verlange na geliefdes wat ons reeds vooruitgegaan het, asook die hoop op ‘n nuwe, helderder toekoms.

Marike het die afgelope jaar die voorreg gehad om vir groot name waaronder Jo Black, Ray Dylan en Elandré voorkonserte te doen.

Haar stem is ook nie beperk tot net een genre nie, maar is buigsaam genoeg om met gemak tussen rou country-rock en hoër klassieke keurspelle te beweeg.

Hier by jou is ’n liefdespopbalade wat pasknapperfek by haar stem pas. Dit het ’n baldadige ritme wat ’n mens laat onthou waarom ons in dié pragtige en unieke reënboogland woon…

Marike het ook ’n musiekvideo vir Hier by jou gemaak – ’n musiekvideo wat al die helder kleure en klanke van Suid-Afrika in oordaad uitbeeld. Die snit is musikaal baie goed versorg en is deur Darryl de Lange opgeneem en vervaardig.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *