As die naam bekend lyk, as die stem bekend klink is dit maar net die begin van jou avontuur saam met Marno Van Der Merwe.
Vandag is dié 38-jarige kunstenaar ‘n gevestigde naam in die vermaaklikheidsbedryf met talle verhoog-, TV- en fliekrolle op sy kerfstok.
Musiek bly wel een van Marno se grootste passies en daarom stel hy vandag sy nuwe liedjie, Uit My Lyf, vry.
Marno het al bekende Afrikaanse treffers geskryf, en onder andere was hy medeskrywer op Riaan Benade se liedjies “Vat ‘n Bietjie” & “Rowwe Bliksem”, maar hierdie keer skryf hy en Riaan Benade ‘n treffer vir homself.
Ons almal het al iemand gehad wat hulle voel hulle nie uit hulle lyf uit kry nie, soos ‘n verslawing. Jy dink dag en nag aan daardie persoon en al julle herinneringe saam. Dit is waaroor sy nuutste liedjie, Uit My Lyf, handel.
“Ek dink dis eerlik en dink dis bietjie anders as wat tans in Afrikaans is. Ek glo dit sal mense dadelik herinner aan iemand.”
Luister liedjie hier – https://MarnovanderMerwe.lnk.to/UitMyLyf
Oor die musiekvideo wil ons nie te veel weggee nie, net dat dit iets anders is waaraan die Afrikaanse musiekbedryf dalk nie gewoond is nie, maar dat dit soms ook ‘n goeie ding is. Die konsep gaan oor iemand wat gemartel word deur dit wat hy nie genoeg van kan kry of mee kan ophou nie.
Kyk musiekvideo hier – https://youtu.be/qGOGhWZ1ab4
Meer oor Marno
Marno het grootgeword in Rustenburg. Sy Pa was ‘n bees- en perdeboer, terwyl sy ma ‘n besigheidsvrou is. Van kleintyd af wou hy net mense vermaak met sang, dans en toneelspel.
Op tienjarige ouderdom was hy klaar vaardig agter ‘n dromstel waarna hy homself leer kitaar speel het. Tydens sy hoërskooldae het hy ook die lofprysingsdienste by verskeie kerke in sy tuisdorp gelei. Behalwe die behoefte om mense te vermaak, was dit destyds vir dié sportuitblinker van die Hoërskool Rustenburg ook ‘n droom om eendag professionele rugby te speel.
As Marno enige iets anders as ‘n loopbaan kon kies, sou dit beslis sport gewees het. Rugby, krieket, golf en tennis is van sy gunstelinge.
“Ek hou van kompeteer en die dissipline wat sport mens laat uitoefen. Die harde werk en die oorwinning.”
Hy het provinsiale kleure in perdry verwerf, eersteliga klubrugby vir die Valke gespeel en ’n wapenbemeesterskursus voltooi.
Nadat hy sy opleiding by Stagedoor, Brümilda van Rensburg se Toneelspelskool en A.C.T.S ontvang het, het Marno voortgegaan om op te tree in produksies soos Janice Honeyman se Robinson Crusoe, Haweloos, Party Police, Kids Rock, Spotlight, Dance Some More, Houtkruis, James Bond, The Spieël en ek, Alles oor liefde en Spesiale ster.
Hy het ‘n gashoofrol gehad in Deon Opperman se produksie van Hartland in 2011.
Sy filmkrediete sluit in Longshot, Pretville en Die Ballade van Robbie de Wee. Hy was ook mede-skrywer en regisseur van die TV-fliek Uit Die Kaskenades.
In 2015 het hy in die SABC3-dramareeks Roer Jou Voete begin vertolk as die hoofkarakter Dillon Pretorius, ‘n talentvolle jong danser wat ‘n nare Joburgse dwelmbaas raak en ontdek dat sy enigste hoop om te oorleef ‘n Latynse en Baldansskool in ‘n vergete Karoodorp.
In 2016 was hy die gasheer van die kykNET-werklikheidskompetisiereeks Varsity Sing, waarin Suid-Afrika se topkore in ’n uitklopformaat meeding om as die beste universiteitskoor gekroon te word. In Sean Else se dramatiese 2016-fliek, Modder en Bloed, vertolk hy die karakter JJ Ratel Wessels.
“Ek is baie trots op dié fliek,veral omdat ek nog altyd graag in ‘n geskiedkundige storie wou speel. Dat die fliek boonop iets van ons eie geskiedenis vertel, maak dit net ‘n groter bonus.”
Sy nuutste rol was in Netflix se eerste Afrikaanse reeks met die naam Ludik.
Verder is Marno ‘n besogte besigheidsman met ‘n paar besighede wat hy bestuur, waarvan een ‘n bemarkings en events besigheid is.