“En dan dans ons” is ’n vuurwarm popsnit van Riaan Grobler

Na bykans twee dekades in die vermaakbedryf is die sanger, akteur, skrywer en radio-omroeper, Riaan Grobler,  al onder Suid-Afrikaners net so  bekend (en geliefd) soos pap, sjeba en, natuurlik, melktert.

Riaan, wat al sedert 2005 sewe vollengte albums uitgereik het, is dié maand terug met ’n spiksplinternuwe enkelsnit, En dan dans ons, wat sy aanhangers beslis nie gaan teleurstel nie.

En dan dans ons is ’n vuurwarm popsnit waarin Riaan nie afwyk van sy unieke styl nie. Dit is ’n snit wat die bene aan die beweeg gaan kry en waar jy beslis nie gaan stil sit nie.

Riaan het al spottenderwys vertel dat hy “gereeld liefdeshartaanvalle” gekry het, want die liefde wil nie lekker vir hom uitwerk nie. Tóg het hy die kuns bemeester om oor die liefde – wat soms suurlemoen en ander kere aarbeie is – te kan sing sonder dat die liedjie te soetsappig oorkom. 

Die liedjie beskryf liefdesemosies: Twee mense wat diep lief is vir mekaar en niemand anders nodig het nie.

Hy vertel oor En dan dans ons:  “Die mense kuier op ’n strand by ’n vuur en kyk hoe die maanlig oor die branders skyn. Dan, net daar op die strand besluit hulle om te dans. Sonder musiek. Sonder ander mense. Net hulle twee. Op hulle eie ritme met net hulle liggame wat die tempo bepaal.’’

Riaan het al verskeie duette saam met sangers soos Juanita du Plessis, Jeniffer Zamudio, David Fourie en Nadia Beukes opgeneem. Met die duette het hy bewys dat sy stem níé net aanpasbaar en veelsydig is nie, maar dat hy ook met gemak tussen die hoër C-note en laer G 2-note kan beweeg.

Riaan het deur die jare bewys dat hy nie net ’n veelsydige radio-omroeper (hy werk sedert 2018 as omroeper by Pretoria FM) en sanger is nie, maar dat hy ook nie bang is om nuwe uitdagings aan te pak en nuwe dinge te bemeester nie. 

Sedert 2020 het hy begin bak en kook; melkterte, fyngebak, troukoeke, en fynproewersdisse wat net so goed op die tong soos sy musiek val. Hy het ook begin hekel en werk aan ’n roman wat eersdaags op die boekrakke gaan verskyn.

“My lewensmotto is om enige uitdaging aan te pak en ook om kanse te waag; as jy dit nie doen nie, kan jy skade aan die onbekende aanrig omdat jy nie weet wat kon gebeur het nie.’’

Riaan het drama aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie studeer en het in verskeie verhoogproduksies opgetree, maar nadat hy in 2007 aan die realiteitsreeks Supersterre deelgeneem het, het sy natuurlike sangstem vir hom nuwe deure oopgemaak.  Die gevolg was platekontrakte, landwye vertonings en geleenthede om saam met die land se bekendste sangers te werk.

En dan dans ons is sover een van die beste poptoevoegings tot die jaar se musiek repertoire en jy moet dit oorweeg om die snit af te laai en tot jou musiekversameling te voeg.  

Daar is geen twyfel dat Riaan  homself as sanger gevestig het nie en dat sy gewildheid net verder sal toeneem nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *