TERTIUS SWANEPOEL / TWEE TEQUILAS

Tertius Swanepoel, ’n sanger van Brits,  pop die nuwe jaar behoorlik binne met ’n kuierkroegliedjie, Twee Tequilas, wat luisteraars, nog voor die eerste rondte die kele natgemaak het, op die dansbaan gaan kry.

Tertius se jongste enkelsnit verskil hemelsbreed van sy vorige enkelsnit  n Land met vrede. Met dáárdie snit het hy vrede, hoop, liefde en voorspoed bepleit. Dit was ’n amperse vryheidslied wat dieselfde tipe aanslag as Liani May se Pretoria en Bok van Blerk se Melk en heuning gehad het.  “Twee Tequilas is nie ’n vryheids- óf ’n vredeslied nie,” lag Tertius, “eersgenoemde is ’n lied wat met jou hart praat en laasgenoemde praat met jou voete.”

Die titel verklap presies waaroor die snit handel. Dit is ’n kuierliedjie waarin dáárdie lekker Meksikaanse drankie die hoofrol vertolk. En een tequila is mos nooit genoeg nie…

“Die meeste mense drink twee tequilas en dit is ook waarom dit die liedjie se naam is,” verklap Tertius.

Tertius sê na die ongenaakbare invloed wat die Covid-19 ook op sy eie loopbaan en natuurlik ook sy sosiale lewe gehad het, was hy nie lus om ’n swaar liedjie te skryf nie. Aangesien hy nog gereeld in kuierkroeë optree het die vingerleklekker-lirieke vinniger as wat jy tequila kan sê uit hom gestroom.

Hy hoop ook dat almal, wat na die snit luister, dáárdie kuieraande voor die woord Covid-19 nog ge-Google kon word, weer sal herleef.  “Ek het al die liedjie by van my vertonings gespeel en die mense het dadelik begin langarm.”

Hoewel hy so lekker oor die skopdop sing, is sy gunsteling shooter ’n swart Zappa, “want dit is baie goed vir my stem,” grinnik hy.  

Tertius het sowat vier jaar gelede tot die Afrikaanse musiekbedryf toegetree en sedertdien het van sy enkelsnitte uitstekend op plaaslike radiostasies gevaar.

Die pa van twee dogtertjies en ’n babaseuntjie het in 2019 gedebuteer met ‘n onafhanklike album Padkaart na my hart. Al twaalf liedjies, wat op die album verskyn het, het hy ook self geskryf.

Tertius sê sy loopbaan is nou weer goed op dreef  en hy hoop Twee Tequilas gaan die dans- en kuierliedjie van die jaar word. “Ek wil graag hê dat die snit op almal se lippe moet wees.”    

Hy is ’n produktiewe liriekskrywer en wil dié jaar “elke vier maande ’n snit uitreik.”

Tertius beskou homself as ‘n passievolle kunstenaar wat sy luisteraars op ‘n reis deur die musikale wêreld neem, waar vryheid, vreugde en hartseer in perfekte balans met mekaar staan.  Hy glo musiek kan met ’n mens paljas en dat goeie musiek die wêreld kan verander.

Twee Tequilas is ’n prettige dansliedjie, die lirieke is sonder enige pretensies.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *